Groeiende krukkelys laat Sesnasies asem ophou

Taulupe Faletau (Foto: Sky Sports)

Taulupe Faletau (Foto: Sky Sports)

Enkele dae voor 2017 se Sesnasiesreeks afskop, laat die groeiende krukkelys Europa se voorste rugbylande asem ophou.

Die jongste onsekerheid raak Wallis se uitblinker-agsteman, Taulupe Faletau, se gereedheid vir die Drake se eerste wedstryd Sondag teen Italië in Rome.

Dié spanmaat van die Springbokflank Francois Louw by die Engelse klub Bath, het voor Kersfees laas gespeel toe hy `n kniebesering vererger het wat hy vroeër die seisoen opgedoen het.

Hy moet Woensdag `n fiksheidstoets ondergaan, waarna `n finale besluit oor sy insluiting in die toetsgroep geneem sal word.

Faletau, `n gebore Tongaan, het in die November-toetse uitgemunt, en Wallis sou swaar op hom steun om die kookwater-kaptein van die Italianers, Sergio Parisse, hok te slaan.

Die Walliese slot, Luke Charteris, het hom reeds vroeër aan die span onttrek nadat hy `n beentjie in sy hand gebreek het.

Engeland

Die vleuel Anthony Watson het Sondag die jongste slagoffer aan Engelse kant geblyk, toe aangedui is dat `n dyspierbesering hom drie tot vier weke van die veld sal hou.

Benewens Saterdag se wedstryd teen Frankryk op Twickenham sal hy waarskynlik ook die kragmeting teen Wallis `n week later in Cardiff misloop.

Kniebeserings hou albei die Vunipola-broers uit die reeks. Billy (agsteman) sterk aan ná `n kraakbeenoperasie, en Maku (stut) sukkel met `n ligamentbesering.

Billy is in Australië gebore en Maku in Nieu-Seeland.

Die flank en gewese kaptein van die Rose, Chris Robshaw, is met `n skouerbesering buite aksie; en die losvoorspeler James Haskell se voetbesering, wat hom reeds sewe maande lank van die veld gehou het, het weer opgeduik.

Frankryk

Frankryk het skaars die beseerde Wesley Fofana (geskeurde Achillespees) met Henry Chavancy vervang voordat dié ook Maandag aan die span moes onttrek.

Geen besonderhede oor die rede Chavancy se onttrekking verskaf nie.

Die stut Eddy Ben Arous se onbeskikbaarheid is eweneens Maandag ná mediese toetse bevestig.

Ierland

Die Ierse haker Sean Cronin sal na verwagting die hele reeks vanweë `n ernstige dyspierbesering misloop.

Jonny Sexton, die Iere se platinumklas-losskakel, word deur `n kuitbesering uit Saterdag se kragmeting teen Skotland op Murrayfield gehou; en die flank Peter O’Mahony het `n dyspierprobleem.

Nóg `n speler wie se fiksheid in twyfel getrek word, is die vleuel Andrew Trimble wat met `n stramheid in sy lies sukkel.

Daar word egter geglo Ierland se bowemate baie probleme met beserings die afgelope jaar het hom gehelp om `n spelersdiepte te ontwikkel wat hom nou baie goed te pas sal kom.

Skotland

Die nekbesering van Skotland se stut uit die Cheetahs-wêreld, WP Nel, is baie slegte nuus vir dié span.

Nel het die afgelope tyd `n ankerrol in die Skotte se agttal gespeel, en is as `n sekere keuse vir die Britse en Ierse Leeus se opdrafspan vir sy komende toer na Nieu-Seeland beskou.

Benewens Nel se besering, moes Skotland se ander Suid-Afrikaanse stut, Allan Dell (hy het SA o.20 verteenwoordig), `n week gelede die veld vir `n kopbeseringsaanslag verlaat en is dit onseker in watter mate hy herstel het.

Italië

Verlede seisoen se agteros, Italië, word oënskynlik die minste deur beserings geraak.

Hy het wel sy groep van 32 tot 31 ingekort nadat die flank Simone Favaro `n skouer beseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.