Groen agterste driehoek aan die diep kant teen Engeland

Aphiwe Dyantyi – sy nege toetse die meeste van die waarskynlike agterste driehoek. (Foto GB Jordaan)

Dis ʼn baie groot waagstuk, maar hoe anders sal jy weet of die Springbokke se agterste driehoek Saterdag op Twickenham die mas in die toetswedstryd teen Engeland sal opkom as jy hulle nie aan die diep kant ingooi nie?

Met die Springbok-heelagter Willie le Roux (London Wasps) onbeskikbaar – omdat die kragmeting buite Wêreldrugby se toetsgleuf val (die Engelse klubspelers mag wel vir Engeland speel) – gaan die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, genoodsaak wees om Damian Willemse op heelagter te kies met Aphiwe Dyantyi en S’bu Nkosi die twee vleuels.

Saam is hulle net 66 jaar oud, en saam het hulle nog net in 15 toetswedstryde gespeel.

Willemse, 20, is boonop in al drie van sy verskynings as plaasvervanger opgestuur. Sy totale speelkans tot dusver is net 51 minute en bestaan uit 18 minute teen die Argentynse Poemas in Durban, weer 18 minute teen die Poemas in Mendoza (albei keer boonop as plaasvervang-senter in André Esterhuizen se plek) en 15 minute teen die All Blacks op Loftus Versfeld toe hy Le Roux vervang het.

Nkosi het nog net drie toetswedstryde agter die blad en Dyantyi darem nege.

Gelukkig is die Engelse afrigter, Eddie Jones, tussen twee vure en moet besluit of hy George Ford of Owen Farrell op losskakel moet kies.

Nie een van die twee is, na my mening, in staat om die gebrek aan ervaring aan die Bokke se kant heeltemal uit te buit nie, want hedendaagse losskakels kan nie, soos ʼn Naas Botha van ouds of Dan Carter, die teenstanders se agterste driehoek aan die raai hou nie.

Warren Whiteley (wat agtsteman sal speel) en Duane Vermeulen (flank) sal ook gereeld terugval om die nodige ondersteuning te bied.

Jonk en onervare of te nie, Willemse, Nkosi en Dyantyi sal die Engelse verdediging uiters beproef.

Dit was juis een van die Bokke se sterkpunte in die reeks in Junie, toe die vaart en onvoorspelbaarheid van Dyantyi en Nkosi die Engelse aan flarde geruk het.

Maar as hulle met hoë skoppe getoets gaan word?

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genieve ·

Ons moet net hierdie een van Eddie Jones deurkom en ek weet ons kan dit doen, dan by gese moet hulle asb 80min speel baie belangrik.

Niklaas ·

Die tyd sal leer of Rassie se WP gabbas die pyp gaan rook. Selfs Wallis is groot gevaar vir die spul sukkel Bokke.

Hanna ·

Niklaas los jy maar Rassie se WP gabbas uit. Wanneer die bokke wen is ons almal bly, WP gabbas en al!!!!

LHS ·

Ruan Combrinck sal bo oor en dwarsdeur enige van daardie 3 hardloop maar die kwotas moet afgedwing word. Blatante diskriminasie en skending van menseregte.

Hardie ·

LHS ek stem saam. Hoop hulle kry groot loesinngs. Wallis gaan mors met hulle. Mooi Rassie; kry vir jou. Hansen van NZ was reg – SA is die enigste land wat nie hulle sterkste Nasionale span kies nie. Belaglikkkkk. …

LHS ·

Nee wat suster Hanna, die Erasmus mannetjie moet iewers verduidelik waarom al sy replacement spelertjies die hele tyd van n sukkelende bankrot franchise afkom wat absoluut niks in die superreekse oor jare kon vermag nie. Dit is so ooglopend dat mens selfs vir arme ou Gio Aplonis kon sien opdiep uit die begrafplaas. SARU probeer skynbaar op die manier WP rugby se finansiele posisisie red ten koste van ware spelers in ander provinsies. Absolute skande.

Swartwolf ·

Die bok agterste driehoek is ‘n risiko op verdediging veral sonder Willie wat solied is o verdediging. Weet nie waar Kolbe is nie maar hoe verder hy van ‘n bok trui afbly hoe beter. Nou keer Rassie terug na dwergery met Aplon. Hoekom nie Jessie Kriel op heelagter nie, Combrink en Dyantyi op vleuels en die Ellende op senter. Ten minute kan Kriel en Combrik verdedig. Aplon en Kolbe = double jeopardy vir bok agterlyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.