Groen Engelse pak die Bokke

Wat voer die Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, in die mou vir Saterdag se toetswedstryd teen die Springbokke op Twickenham?

Dié vraag volg nadat Jones Donderdag sy span aangekondig het om die Bokke te pak.

Kom ons begin voor: Jones het ʼn baie onervare agttal gekies. Ja, daar is baie spelers op die beseringslys, maar dis mos ʼn waagstuk teen die fisieke Bokke, wat die All Blacks in twee toetwedstryde voorlangs laat klippe kou het?

Vier van die voorspelers (die groentjie Alec Hepburn, Brad Shields, Tom Curren en Mark Wilson) het nog nie een in meer as tien toetswedstryde gespeel nie, en twee van die bank-voorspelers, Zach Mercer en Ben Moon, sal hul buigings maak as hulle opgestuur word.

Is dit dalk die insette van John Mitchell, die gewese afrigter van die Bulls, wat die afgelope maand Jones se regterhand was, veral op die afgelope oefenkamp in Portugal? Wil die Engelse by Mitchell se denkrigting aanpas en hardloop?

Nadat Jones ook langer as twee jaar vasgeklou het aan die oninspirerende losskakel George Ford (met Owen Farrell op binnesenter), het Jones helaas sy vertroue in Farrell geplaas om die nr. 10-trui teen die Bokke te dra.

Danny Cipriani het Ford wel in die derde toetswedstryd in Junie op Nuweland vervang en Engeland het die dag gewen. Was dit nie toe al die laaste strooi nie?

Ook het Jones die binnesenter Ben Te’o wat dié seisoen nog net 28 minute vir die Worcester Warriors gespeel het, in Farrell se plek gekies.

Die kragtige Manu Tuilagi is op die bank en sal na alle waarskynlikheid in die tweede helfte opgestuur word om die Bokke se middelveld te beproef.

Volgens Jones is daar op ʼn nuwe verdedigingspatroon (Mitchell is mos hoeka die span se nuwe verdedigingsafrigter) besluit.

Wat baie interessant is, is die agterste driehoek, wat uit Elliott Daly, Jack Nowell en Johnny May bestaan.

Die plan is duidelik om teen die Bokke te hardloop, maar kan die Engelse, sonder broodnodige ervaring, die Bokke aandurf?

Die beroepswedders dink hulle kan die Bokke klop, maar ek weet darem nie.

Die span –

Elliot Daly, Jack Nowell, Henry Slade, Ben Te’o, Jonny May, Owen Farrell (medekaptein), Ben Youngs, Alec Hepburn, Dylan Hartley (medekaptein), Kyle Sinckler, Maro Itoje, George Kruis, Brad Shields, Tom Curry, Mark Wilson. Bank: Jamie George, Ben Moon, Harry Williams, Charlie Ewels, Zach Mercer, Danny Care, George Ford, Manu Tuilagi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Die Engelse gaan die Bokke probeer verras met hardloop rugby. Hulle gaan wel kreun in die skrums, maar kan voldoende besit uit die lynstane kry. Ons agterste 3 gaan getoets word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.