Groot deurbraak vir Nederland met SA afrigter

Gareth Gilbert – deurbraak met Heeren 15. (Foto: Facebook)

Die Nederlandse rugbyspan het ʼn groot deurbraak gemaak met die Suid-Afrikaanse afrigter Gareth Gilbert aan die stuur.

Hy tel nou tussen die voorste 30 rugbylande ter wêreld nadat sy afgelope wegholsege van 59-7 oor Moldawië hom ʼn indrukwekkende vyf plekke op Wêreldrugby (WR) se ranglys laat vorder het.

Die Heeren 15 is vervolgens die wêreld se 28ste beste nasionale rugbyspan.

Gilbert, ʼn oudleerling van Pretoria Boys High, het toetsrugby vir Botswana gespeel, en die gekombineerde Afrika-Luiperds verteenwoordig. Die befaamde Namibiese kaptein Jacques Burger was sy flankmaat, en ʼn huidige hulpafrigter van die Springbokke, Brendan Venter, het dié span gebrei.

Kobus Potgieter se Duitse span, vol spelers met Suid-Afrikaanse bande, handhaaf sy 23ste plek op die jongste ranglys – ʼn trappie beter as Kanada, wat ʼn gereelde deelnemer aan die Wêreldbekertoernooi is.

Die gewese Ikey-breier Kevin Musikanth se Israeli-span is van 59ste tot 58ste bevorder.

Daar was egter minder goeie nuus vir die gewese Westelike Provinsie-speler Jerome Paarwater, wat Kenia afrig.

Sy span se twee nederlae in WR se Nasiesbekertoernooi in Hongkong (3-23 teen Chili en 10-31 teen Rusland) het hom twee plekke gekos, en Kenia is nou 29ste op die lys.

Rusland, wat ook die gasheer, Hongkong, in ʼn spannende stryd met 16-13 verslaan het, lyk of hy die toernooi ʼn derde opeenvolgende keer sal wen.

Hongkong het sy ander wedstryd tot dusver met 13-6 teen Chili gewen.

Die toernooi word Saterdag afgehandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koot ·

Dit is almal grapmakers. die Varsity beker is ssos toetsrugby vir die lande ( spannetjies).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.