Groot Duitse rugbyslae ná premier se dreigement

Jaco Otto – twee drieë. (Foto: Tobias Keil)

Hoeveel ʼn dreigement van die Samoaanse premier daarmee te doen gehad het, kan ʼn mens nie sê nie, maar Samoa het Duitsland se Wêreldbeker-aanspraak Saterdag in Apia, Samoa, ʼn groot knou toegedien.

Hy het die eerste van twee kragmetings met 66-15 gewen, nadat hy rustyd reeds met 35-3 voor was.

Die Samoaanse premier, Tuilaepa Sailele Malielegaoi, het sy land se span vroeër vandeesweek as “futloos” uitgekryt omdat hy tien wedstryde op die ry af verloor het.

Hy het hulle aangesê om soos een man te bedank as hulle teen die “geringes” (Duitsland) sou verloor.

Samoa se regtervleuel, Ed Fidow, het drie drieë gedruk, en ʼn gewese Kings- en Sharks-speler, die buitesenter Paul Perez, het ook ʼn slag agter die doellyn gaan kuier.

Vir Duitsland het sy voorste driedrukker, Jaco Otto, ʼn gewese o.21-speler van die Sharks, twee drieë gedruk. Raynor Parkinson, die Duitsers se voorste puntemaker, wat vir die Universiteit van Johannesburg gespeel het, het ʼn doelskop en ʼn strafdoel behaal.

ʼn Mens moet ʼn mate van meegevoel met die Duitse span hê. Samoa is nie net 12 plekke bo hom op die wêreldranglys nie (17de teenoor 29ste), maar volgens die Duitse Rugbyunie (DRV) se webwerf het die span, met ʼn vlug van drie skofte, 48 uur lank “oor elke moontlike tydsone” gereis om Samoa te bereik.

Die herontmoeting word vir 14 Julie in Heidelberg, Duitsland, beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.