Groot eindstrydtelling in Sydney

Jy sien nie sommer in die eindstryd van Wêreldrugby se sewesreeks ʼn wentelling van 29-0 nie, maar dit is wat Sondag in Sydney gebeur het.

En wat seermaak: dit is die pak wat die tuisspan Australië Sondag aan die Blitsbokke uitgedeel het.

Die Blitsbokke, tot in daardie stadium onteenseglik die beste span in die toernooi, het hierdie eindstryd vir hul vrotste vertoning vanjaar en moontlik oor die laaste drie jaar of so uitgekies.

Dinge het in die eerste skrum skeefgeloop, die hantering het gesukkel, die ietwat baie strafskoppe in die halfeind is voortgesit en die span het totaal verward voorgekom. In die hegte verdediging van die vorige wedstryde was daar ook te dikwels onsekerheid.

Die Aussies het in die eerste helfte die besit oorheers, en was met rustyd 7-0 voor. Nog vier drieë het gevolg – en Snyman-hulle het nie gelyk of hulle sou kon gaan druk nie.

Wat verkeerd geloop het, sal ʼn mens nie weet nie, maar daar was ʼn besliste skroef los.

♦  Vroeër het Suid-Afrika redelik maklik met Kenia in die kwarteind afgereken, 17-0.

Seabelo Senatla het twee keer voor rustyd onverdoelde drieë gaan druk en na die omdraaislag het Tim Agaba, wat ʼn baie goeie toernooi beleef, gaan druk vir Justin geduld wat verdoel het.

♦  Toe het Philip Snyman-hulle met ʼn goeie vertoning die halfeind teen die VSA met 35-7 gewen.

Senatla het binne die tweede minuut onder die pale gaan druk. Die Blitsbokke het drie vroeë strafskoppe afgestaan en toe vir Justin Geduld verloor wat die bal met een hand probeer onderskep het. Dit word vandag as afklap van die bal gesien, en teen die einde van sy tweeminuut-geelkaart het die VSA gaan druk en met 7-elk gelykgetrek.

Suid-Afrika het egter toe die geelkaart teen die VSA vir ʼn hoogvat in die laaste beweging voor rustyd gebruik om hul tweede drie te druk (14-7).

Die Blitsbokke het met goeie afwisseling, en veral die uitbuit van die Amerikaners se foute, nog drie keer gaan druk. Veral die goeie hardlooplyne en die verstandhouding tussen die spelers by die rigtingverandering van die spel het indruk gemaak.

Senatla (2), Geduld, Agaba en Werner Kok met ʼn kragdrie het die drieë gedruk en Geduld het met goeie skopwerk al vyf verdoel.

♦  Die Blitsbokke het ironies genoeg van tweede plek, twee punte agter Nieu-Seeland, na eerste op die reeks se punteleer opgeskuif vanweë die baie verrassings in die toernooi (sien Sondag se uitslae hieronder).

Suid-Afrika (58) is nou op 58 punte na drie, punte voor Nieu-Seeland (54) met Australië (43) derde. Hulle word gevolg deur Argentinië (41), Fidji (40) en Engeland.

Sondag se uitslae in die bekerafdeling

Kwarteind –
VSA 24 Fidji 7, RSA 17 Kenia 0, Australië 24 Nieu-Seeland 12, Argentinië 10 Engeland 0.
Halfeind –
RSA 35 VSA 7, Australië 28 Argentinië 0,.
Vyfde plek-uitspeel –
Nieu-Seeland 31, Fidji 7.
Derde plek-uitspeel –
Argentinië 31 VSA 10

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niklaas ·

Eina ! Dis nogal pynlik want hul is baie goed op dreef. Maar min spanne ter wereld bly onoorwinlik , behalwe die All Blacks in 15 man rugby , natuurlik . Maar ek glo die Blitsbokke sal herstel van hierdie skok en weer puik presteer in die volgende toernooi.

Peet ·

Phillip Snyman, die kaptein, is beseer. Kyle Brown, die vorige kaptein, is wel beskikbaar, maar Justin Geduld word as kaptein aangewys. Met die sing van die volksliedere al lyk hy soos ‘n outjie op sy eerste skooldag. Neil Powell, jy is ‘n briljante afrigter, maar hierdie een moet jy op die ken vat.

Frans C ·

Sonder Snyman het die Bokke leierloos gelyk en was daar te veel individuele pogings.

Erick ·

Hoekom was daar ‘n Australiese skeidsregter in die eindstryd? Die Ausies het die bal vasgehou in die loskrums, te vroeg gedruk in die vaste skrums en kort, kort onkant gespeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.