Groot gees in rugbygeledere oorlede

Robert Denton. Foto: Wessel Oosthuizen/SASPA Media.

Robert Denton, voormalige sekretaris van die Noord-Transvaalse Rugbyunie (NTRU), is Maandagaand in Pretoria oorlede.

Die joviale, maar ook doelgerigte, man wat as slot feitlik die alleenreg as die toentertydse reisende reserwe van die Ligbloues gehad het, maar nooit vir hulle gespeel het nie, het groot spore in Noord-Transvaalse Rugby en ook op nasionale vlak in rugby getrap.

Hy was baie nou gemoeid met die omstrede Suid-Afrikaanse toer van die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986. Dit was, op een uitsondering na, dieselfde span as die All Blacks-span wat die vorige jaar weens Suid-Afrika se politieke beleid deur die Nieu-Seelandse regering verbied is om hier te kom toer. Hulle het in vier toetse teen die Springbokke gespeel nadat hulle in die grootste geheimhouding Suid-Afrika toe gevlieg het.

Dit was ook Denton se oorredingsvermoë, gebou op logika, wat gesorg het dat Loftus staan waar hy nou is. Die NTRU het in Desember 1970 sy eerste heeltydse sekretaris aangestel. Denton het vir die SA Universiteite, die Noordelike Universiteite en die Kwaggas gespeel. Hy het ook vir Pretoria se Gekombineerde XV teen die Magte gespeel en was Noord-Transvaal se reisende reserwe, maar het nooit speelkans gekry nie.

Hy sou sy pos as heeltydse sekretaris op 1 Januarie 1971 inneem. Sy titel is later na hoofbestuurder verander. Denton het ’n enorme invloed op die bou van die groter en beter Loftus Versfeld gehad.

Hy is egter teensinnig om die krediet daarvoor te aanvaar. “Ek was op stuk van sake ’n betaalde beampte. Dit was my werk en daar was ’n uitvoerende bestuur wat voorstelle moes goedkeur,” het hy destyds gesê.

Dit was Denton wat die betrokke partye oortuig het om nie die beoogde plan deur te voer om die stadion na Groenkloof te verskuif nie. “Ek het in die maand tussen my aanstelling en die dag wat ek by die NTRU begin werk het, my berekeninge gedoen. Dit was finansieel net nie haalbaar nie, het ek gevoel.”

Hy het sy plan, om geleidelik verbeterings by Loftus Versfeld aan te bring eerder as om te trek, aan die NTRU se uitvoerende bestuur gemotiveer. In 1972 is die oospaviljoen (boonste vlak) voltooi.

Foto: Verskaf.

In 1974 is die laervlak (suidpaviljoen) in gebruik geneem en in 1977 is die hoofpaviljoen ingewy met die wedstryd tussen die Springbokke en ’n Wêreld XV, aangevoer deur die legendariese Britse en Ierse Leeus se kaptein, Willie John McBride.

Loftus was die eerste rugbystadion ter wêreld met onthaallosies. “Ek en prof. Fritz Eloff het dit die eerste keer in die Seal-stadion in San Francisco gesien toe ons in 1974 op ’n stadiontoer met ons argitekte was. Ek het onmiddellik die potensiaal besef. Met ons terugkeer het ek voorgestel dat ons honderd losies by ons bouplanne insluit, maar net 21 is deur die uitvoerende bestuur goedgekeur,” het Denton in 2012 vertel.

Die losies is binne ’n week verkoop nadat ’n artikel in Oggendblad verskyn het – nog voor die bouplanne opgetrek is en drie jaar voor die voltooiing van die stadion. Die sukses van die destydse besluit in 1974 kan gemeet word aan die feit dat die BBRU nou meer as 300 losies het.

Denton en Eloff het ook tydens hulle toer na die Ooste en die VSA ’n kleinerige standbeeld by ’n rugbyklub in Tokio gesien. Dit is opgerig ter nagedagtenis aan ’n speler wat op die rugbyveld gesterf het.

’n Beeld van ’n stormende rugbyspeler is toe ook later by Loftus agter die hoofingang opgerig. Dit is ter ere van almal – spelers, skeidsregters, administrateurs, toeskouers, letterlik almal – wat ’n bydrae tot die unie gelewer en die kontantbetaling van die nuwe stadion moontlik gemaak het.

Denton was ook die eerste man wat die markiestente vir onthaaldoeleindes by rugby bekend gestel het. Hy het ook vermaak voor wedstryde ingestel en daar is destyds deur die rugbymense daarna verwys as “Denton se sirkus”. Dit het onder meer ingesluit 20 trompoppiegroepe wat tegelykertyd op die veld optree; drie orkeste van die korrektiewe dienste, die SA Polisie en die Weermag wat saam optree nadat hulle uit drie hoeke van die stadion inmarsjeer en een orkes gevorm het; ’n  Walliese mannekoor met hul rooi baadjies en die gewilde gimnaste van die Hammanskraal‑polisie met hul perfekte gekoördineerde vertoning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Bring nou die polisie en weermag om op te tree en dit sal rerig n sirkus wees.
Kyk net wat het ons as land en mense gehad, en kyk na die swakkelinge wat ons nou mee sit in bestuur net omdat hulle die regte vel kleur het.

Baie hardseer, maar die wiel draai en dit gaan hulle mense nog erger benadeel in die toekoms.

R.I.P

piet ·

Deesdae probeer hulle seker die losies vol kry……maar miskien is dit ook almal oorgekoop en vermaak die unie nou net sy kliente in die losies. LOL

Chris dupreez ·

Die WP rugby unie kan doen met so administrateur. Dalk kom hulle weer op die regte finansiële pad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.