Groot is nie altyd die beste nie

Lionel Cronjé – neem nou sy eie besluite (Foto: Twitter)

Dis nie altyd in die beste belang van ʼn rugbyspeler om vir ʼn groot unie te speel nie.

Ja, dis waar hy sy neus voor kan kry, maar geld en liggies is nie alles nie. Vra maar vir Lionel Cronjé, wat eers die volle kringloop by die Vrystaatse Cheetahs, Stormers en Westelike Provinsie, Blou Bulle, Goue Leeus, Brumbies en Sharks moes voltooi het voordat hy oplaas tot sy reg by die Southern Kings kom.

Met Handré Pollard en Pat Lambie steeds beseer, is Cronjé, Elton Jantjies en dalk ook die talentvolle groentjie Curwin Bosch straks op die Bokke se wenslysie, mits hulle nie vir Frans Steyn van Montpellier af wil lok nie.

My standpunt is ploeg met jou eie kalwers, beloon die plaaslike spelers wat weekliks uitblink, al dink Jake White (soms tereg ook) dat van die oorsese Bokke beter is.

Cronjé, 27, was as jongeling by Queen’s College in Queenstown geoormerk vir groter dinge, veral toe hy in 2009 die uitblinker vir die Suid-Afrikaanse o.20-span by die Wêreldkampioenskap was.

Daar was Springbok op sy voorkop geskryf toe hy in 2010 deur Rassie Erasmus van die Shimlas af na die WP gelok is. En raai wat, onder Allister Coetzee het hy in twee seisoene in 2010/’11 net sewe keer Superrugby gespeel.

Gedruk in ʼn blik, patroonrugby, gestroop van sy selfvertroue, net soos talle ander talentvolle spelers by ander groot unies.

Cronjé is Pretoria en Johannesburg toe, maar sy loopbaan het bly stotter. Ná ʼn seisoen by die Brumbies in Australië onder Laurie Fisher is hy na die Sharks gelok, waar dinge ook nie na wense verloop het nie.

Nou is hy by die Kings, waar hy sy kop skoongekry het, die leiding met sy eie besluite neem, en die Kings die vrugte pluk.

Is dit ook nie ironies nie dat die skrumskakel Louis Schreuder (ook ʼn oud-Stormer), wat ʼn paar jaar gelede deur Heyneke Meyer by Bok-oefenkampe betrek is, nou ook tot sy reg kom?

Wat van die buksie-breker Chris Cloete, wat straks die beste baljagter in Suid-Afrika is? Hy herinner baie aan Heinrich Brüssow, George Smith, Matt Todd, en dalk nog beter.

Hoe sê hulle nou weer, dis moeiliker om ʼn klein vissie in ʼn groot dam te wees as ʼn groot vis in ʼn klein dammetjie. Of is dit andersom?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanrick ·

Lionel Cronje is op die oomblik gemaklik die beste 10 in SA. En ek sluit Pollard en Lambie daarby in.

Daar moet ook net in ag geneem word dat hy onder die beste afrigter (Deon Davids) in SA speel. Die Kings is uitstekend afgerig en dit help natuurlik Cronje se spelpeil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.