Groot kloof in Europese rugbyreeks oopgevlek

Die Tsjeggiese Republiek het Saterdag ʼn groot kloof tussen die deelnemers in Afdeling 1 Noord van Rugby Europa se reekse oopgevlek.

Die Tsjegge, wat ná drie wedstryde in dié afdeling voorloop, het die tweede geplaasde Letland met 54-3 oorrompel.

Slegs Litoue het tot dusver redelike teenstand teen die Tsjegge gebied. Die voorloper het hom met 15-6 geklop, en Swede met 56-14 verniel.

Terloops, die Suid-Afrikaner Rikus van Niekerk uit Polokwane se wêreld het vanjaar vir Swede op senter uitgedraf. Hy voer die klub Stockholm Exiles aan.

Die Litouers het nog twee wedstryde om te speel, maar dit sal ʼn magtige poging van hul kant af verg om die titel voor Tsjeggië weg te raap

Die wedstryd tussen die Tsjegge en Luxemburg lê nog voor, maar laasgenoemde word die swakste kans van almal in die afdeling gegun.

Dit val op dat die Tsjegge deur ʼn Pool, Thomasz Putra, afgerig word, terwyl die Pretorianers Blikkies Groenewald en Chris Buitendach die Pole brei.

Putra het Pole in tien toetse verteenwoordig, en het die nasionale span van 2006 tot 2013 afgerig.

Handgemeen

♦ Daar word vertel dat die eerste poging in 1895 om rugby in Praag te vestig, destyds nog die hoofstad van Boheme en deel van Oostenryk-Hongarye, op ʼn openbare handgemeen uitgeloop het, en dit laat vaar is. Toe dit in 1926 wel posgevat het, was dit in Brno, Morawië, ʼn ander deel van wat toe Tsjeggo-Slowakye was.

Die Tsjeggiese Rugbyunie het sy 90ste verjaardag verlede November met ʼn wedstryd teen die Barbarians in Praag gevier. Die Barbarians het met 71-0 gewen.

♦ O ja, Tsjeggië is glo ʼn gewilde bestemming vir rugbytoere – omdat die bier goedkoop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.