Groot oorwinning vir Clermont teen Kanadese

Die Kanadese Uitnodigingspan het ʼn tweede groot drag slae op sy Franse toer op die lyf geloop.

Die Top14-klub Clermont Auvergne het die toerspan met 54-15 afgeransel, nadat hy in sy eerste toerwedstryd met 17-47 teen die Franse kampioen, Castres Olympique, slae gekry het. Clermont was die vorige kampioen.

Die Kanadese toetsspeler Guiseppe du Toit (binnesenter) het met ʼn doelskop en ʼn strafdoel geslaag.

Die toer was deel van Kanada se voorbereiding vir die vierhoekige heruitdun, met die oog op aanstaande jaar se Rugbywêreldbeker-toernooi, wat in November in Marseille, Frankryk, op rondomtaliegrondslag uitgespook word.

Kanada, Duitsland en Hongkong het reeds hul plekke in die heruitdun bespreek. Die vierde deelnemer word Saterdag in Windhoek bepaal, waar Namibië om Rugby Afrika se Goue Beker teen Kenia kragte meet.

Die wenner dring regstreeks tot die toernooi in Japan deur, en die verloorder (Afrika se naaswenner) kry nóg ʼn kans in Marseille.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.