Groot opgewondenheid oor nuwe oorgrensreeks

Byskrif: Jan Wiechand (president van die Valke), JP Schoeman (Volcano), Willem Strauss, (president van die Blou Bulle) en Suzette Schoeman (Volcano) by die bekendstelling van die nuwe Superliga. (Foto: Verskaf)

Groot opgewondenheid heers in die Noorde met die aankondiging van ʼn nuwe oorgrensreeks wat klubspanne van die Blou Bulle, die Valke en die Luiperds insluit.

Die reeks sal in drie afdelings beslis word – ʼn Superliga A, Superliga B en Superliga o. 20, en beloof om krag teen krag te meet.

Luidens die verklaring sal die Tukkies, die Naka Bulle, Centurion, Quins-Bobbies-rugby (almal Blou Bulle), Rustenburg Impala (Luiperds), Springs, East Rand United (Valke) en Northam (Limpopo Blou Bulle) die A-afdeling betwis.

Dit sal van Mei tot Augustus/September oor ʼn dubbele ronde (14 wedstryde per span) uitgespook word, wat op ʼn halfeind- en eindstryd sal uitloop.

Die vier Blou Bul-klubs se onderlinge wedstryde sal die tuiste van die bond se Carltonbeker bepaal.

Elf spanne – Tuine, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Korrektiewe Dienste, Dragons, Pretoria (almal Blou Bulle), Brakpan, Vereeniging, NWU-Vaal, Boksburg (Valke), Klerksdorp en Potchefstroom-dorp (Luiperds) ding in die B-afdeling mee.

Laasgenoemde twee klubs het verlede jaar in die Griffons-Luiperds-oorgrensliga gespeel.

Die B-afdeling word terselfdertyd as die A-afdeling beslis, en loop ook op ʼn halfeind- en eindstryd uit.

Die besonderhede van die o. 20-reeks word nog uitgewerk, volgens die verklaring, maar daar word gehoop om tien tot 12 spanne daarby te betrek.

Die reeks, wat deur Volcano geborg word, volg die Noorderbonde se vroeëre Assupol-reeks en verlede jaar se Superliga op.

Die vorige reekse is dermate deur die Blou Bul-klubs oorheers dat die ander klubs mettertyd in ʼn groot mate belangstelling daarin verloor het, en ʼn mens wil hoop dat die klubs van buite Pretoria aanstaande jaar beter rekenskap van hulself sal gee.

Willem Strauss, die president van die Blou Bulle, sê die reeks sal ʼn oorgang vir talentvolle amateur- en semi-beroepspelers na die beroeps- en provinsiale spanne van die betrokke drie bonde skep.

Eugene Hare, die bond se uitvoerende hoof, vertrou die reeks sal van krag tot krag gaan, en dat nóg klubs hulle daarby sal aansluit.

Ettienne de Lange, die uitvoerende hoof van die Valke, meen die reeks sal nuwe lewe in gemeenskapsrugby blaas.

JP Schoeman, die besturende direkteur van Volcano, ʼn verskaffer van sportdrag, sê dis ʼn voorreg om só tot die ontwikkeling van rugby, veral op klubvlak, by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.