Groot pak, beseringsterugslag vir Blitse

Suid-Afrika het Saterdag (SA tyd) in Vancouver deurgedring na die kwarteindronde van Wêreldrugby se sewesreeks, en kom Sondagaand 20:08 (SA tyd) teen Australië te staan.

Die Blitsbokke het Saterdag (SA tyd) met die wegspringslag teen Rusland effens gestotter maar ná rustyd vlamgevat en met 38-7 gewen; moes toe uithaal om teen Skotland danksy twee langafstand-drieë met 21-0 te wen; en toe lelik teen die All Blacks vasgeval, 14-33.

In ag genome die gebrek aan ervaring van die span weens beserings (en die nie-beskikbaarheid van vier van hulle spelers wat Superrugby speel), is dit nietemin ʼn prestasie om steeds onder die agt voorste spanne gereken te word.

Die Blitsbokke loop gevaar om hulle voorsprong (tans tien punte) op die reekspunteleer aan Nieu-Seeland af te staan – en hulle het ʼn terugslag beleef met die skouerbesering van Cecil Afrika teen Nieu-Seeland. (Hy het reeds teen Skotland sy skouer na ʼn duikslag vasgehou).

Of die Blitsbokke wat die afgelope jare Suid-Afrika se rugbyvaandel dra sonder (moontlik) Afrika, Werner Kok, Justin Geduld, Rosko Specman, Seabelo Senatla, Kwagga Smit, Tim Agaba en Sikhumbuzo Notshe sal kan presteer, is onwaarskynlik.

Wen die Blitsbokke teen Australië, sal hulle in die halfeind te staan kom teen die wenner in die wedstryd tussen verlede week se verloorfinalis Argentinië en Fidji, wat tot dusver die indrukwekkendste span in Vancouver is.

♦  Nieu-Seeland het vyf keer teen Suid-Afrika gaan druk. Hoewel die man-teen-man duikslae van die Blitsbokke nie te eina was nie, het die verdedigingstruktuur gelol weens die groot aantal jong spelers wat nog nie tot eenheid saamgesnoer is nie.

Suid-Afrika was na ses minute reeds met 0-21 agter teen die All Blacks. Dylan Sage se drie kort daarna het kortstondige moed gegee dat die Blitse nog kon wen. Toe het Nieu-Seeland egter twee keer na mekaar gaan druk, een keer verdoel en met die telling op 33-7 was Kyle Brown se verdoelde drie ʼn minuut voor die einde uiteraard heeltemal te min.

Die kwarteindbepalings –

Australië vs Suid-Afrika (20:08 SA tyd)
Fidji vs Argentinië
Nieu-Seeland vs VSA
Engeland vs Kenia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.