Groot tellings kenmerk eerste sewesronde in Sydney

Dit was Vrydag in Sydney ʼn tipies eerste uitspeelronde met yslike tellings wat in Wêreldrugby se sewesreeks aangeteken is.

Australië en Hongkong verkies dat hulle toernooie in die ietwat sinnelose formaat oor drie pleks van twee dae gespeel word.

Die belangrike eerste wedstryd vir die sterker spanne om hulle voete te vind beteken ʼn dag se vroeër reis na die toernooi, en word ongedaan gemaak omdat spelers hulle op die tweede dag eintlik weer van voor af moet instel.

Die Blitsbokke het Papoea-Nieu-Guinee oorrompel en met 50-0 geklop nadat hulle agt keer gaan druk het. Daar kan nie veel in die wedstryd gelees word nie, want die Blitsbokke is glad nie getoets nie,  maar die hantering en opsies was suiwer.

Hulle vernaamste teenstander in afdeling C, Engeland, het met Spanje afgereken, 22-10.

Nieu-Seeland het met 61-0 teen Rusland gewen, en Skotland was teen Kanada met 52-5 baas.

Fidji het oortuigend teen hulle Suidsee-teenstanders Samoa gewen en Argentinië, wat in Kaapstad in die eindstryd was, moes uithaal om Kenia in ʼn foutbelaaide wedstryd met 7-5 te klop.

Die enigste ander wedstryd wat redelik gelykop verloop het, was dié tussen die VSA en Australië wat met 31-26 deur die tuisspan gewen is.

Saterdag speel Suid-Afrika eerste teen Spanje (06:03) en kom dan later in die dag (09:14) teen Engeland te staan in die wedstryd wat hoogs waarskynlik sal bepaal wie van die twee afdeling C wen.

Een van die interessantste tweestryde Saterdag sal dié tussen die twee groot vyande, Nieu-Seeland en Fidji, wees wat die rangleer van afdeling A sal bepaal. Dié wedstryd word om 10:42 gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.