Groot tellings, swak afronding bekommer in KZN

Groot tellings by die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Wahl Bartmann-rugbydag en die onvermoë van verskeie spanne om punte aan te teken, wek nuwe kommer in die bond ná die ongedissiplineerde spel wat die Flyatoernooi ontsier het.

Boaan die lys van skokke Saterdag is Westville Old Boys (WOB) se verwoesting van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) met 105-0, ondanks die studente se goeie vertoning in die reeks om die Varsityskild. Om sout in die wonde te vryf, het Durban Collegians o.20A met 80-0 teen sy UKZN-portuur gewen.

In nog wegholseges het Durban Collegians met 83-0 met South Coast Warriors (SCW) klaargespeel; Varsity College het Newcastle Highlanders met 72-0 oorrompel; Hillcrest Villagers het Queensburgh met 64-0 verniel; en Amanzimtoti het Jaguars met 62-0 afgeransel.

College Rovers het Crusaders met 46-17 in die hoofwedstryd verslaan.

♦ Ronnie Uys, die hoofafrigter van Bidvest Insurance Crusaders, sê Rovers het op die ou end eenvoudig sy kanse beter benut.

“Niks wou vir Crusaders aan die gang kom nie, en nes dit wou lyk of dinge regkom, is daar weer foute begaan. Crusaders kon maklik nog vier drieë gedruk het, maar het die kanse verkwis deur die bal te verloor of aan te slaan.”

Uys sê sy span moet vandeesweek sy probleme uitstryk en aanbeweeg.

“Ek glo ons kan opstaan ná dié wedstryd. Ons het in die littelosmakers getoon ons kan goeie rugby speel, en ek glo ons kan sake regstel, en weer daardie soort rugby speel.”

♦ Malcolm Kennedy, die sekretaris van Varsity College (VC), sê Newcastle moes ver ry vir die wedstryd, en verdien lof vir hul vertoning in weerwil van VC se sege van 72-0.

VC se buitesenter, Willem Rheeder, het binne enkele minute die eerste drie van 2017 se Premierligaseisoen gedruk, om sy eie driekuns Saterdag in te lui.

“Dit het gelyk of VC geheel en al die oorhand gaan kry, maar Newcastle het ander gedagtes gehad en soos besetenes verdedig, en verskeie gewisse drieë voorkom.

“VC kon slegs vyf keer druk om rustyd met 27-0 voor te loop, maar ʼn mens het deurentyd die gevoel gekry dat VC se sterk bank nuwe stukrag aan sy aanslag sal verleen.

“Dis presies wat gebeur het toe die VC-masjien ʼn verdere 45 punte (sewe drieë, waarvan vyf verdoel is) in die tweede helfte opgestapel het.”

Benewens Rheeder se drietal, het Kyle Hatherell (agsteman) en Patrick Sikhosana (haker) elk twee drieë gedruk.

Josh Fourie het 15 punte aangeteken deur ʼn drie te druk en met vyf uit 12 doeskoppe te slaag.

Malcolm Cele, Coneree Poole, Alwyno Visagie, Bennie Mashabane (almal agterspelers) en Justin Mendelsohn (stut) het VC se ander drieë gedruk, en Stephan Bothma het nog een verdoel.

Kennedy sê VC se voorspelers verdien vermelding vir die uiterste mate van gesag wat hulle in die skrums en losskrums afgedwing het.

Grootse drie

“In een geval is Newcastle se skrum bykans 20 meter ver teruggestoot voor VC die bal gewen en dit wyd gespeel het om ʼn grootse drie te druk.

“Zwela Zondi op die flank was kolossaal. Dieselfde geld vir die slotte Shane Kennedy en Ray September.”

Hy sê die wyse waarop die span sy strukture in stand gehou het, was besonder verblydend – “selfs nadat hy na willekeur punte begin aanteken het”.

“Die wedstryd het ʼn gesonde fondament gelê vir die Durban-Noord-botsing Vrydag tussen VC en Crusaders.

“Waar die twee klubs minder as ʼn kilometer uitmekaar lê, kan albei sterk ondersteuning te wagte wees en daar uitgesien word na ʼn aand van puik rugby.”

♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê daar was darem twee positiewe aspekte vir sy span: hy (die span) het twee vaskoppe gehaak, en het nie ʼn enkele lynstaan verloor nie.

“Die spelers sal egter hul sokkies moet optrek. Die verdediging was baie swak en dit het regtig voorgekom of hulle bang was om te duik.

“Daar is ook uiters swak kantlyn toe geskop, en die afskoppe was power.”

Swanepoel sê twee spelers wat getoon het hulle kan op Premierligavlak meeding was Corné Vermaak (binnesenter) en Mthoko Nkanyana (haker).

“Vermaak het gewys waarom hy op junior vlak ʼn gekontrakteerde speler was, en Nkwanyana het sy man gestaan. Die mannetjie is klein, maar hy speel ʼn barshou.”

Hy sê die klub se diepte sal ernstig aandag moet kry, met manne soos Ferrari Hadebe (linkervleuel), Max Mkhize (buitesenter), Gift Mabaso (binnesenter), Ruan Fourie (agsteman), Wynand Pelser (stut) en Adriaan Koorts (stut) wat nie in Durban kon speel nie. Boonop het Edwin Fouche (skrumskakel) verlede week verhuis.

Swanepoel sê diegene wat reken Highlanders hoort nie in die topliga nie, moet kennis neem dat die klub se derde span Saterdag Bergville Zebras in die plaaslike subunieliga met 123-14 weggeveeg het, en die o.20 span slegs met 22-24 teen College Rovers verloor het.

“Ons sal eenvoudig harder moet werk, en bepaalde spanne teiken wat ons tot elke prys moet moet klop.”

Gesien Durban Collegians verpletterende sege van 83-0 oor SCW het Highlanders Saterdag ʼn selfs strawwer wedstryd voor die deur met Collegains wat Newcastle besoek, en hy sal intussen drasties moet verbeter.

Henkie Groenewald van Hillcrest Villagers in aksie teen Queensburgh. (Foto: Verskaf)

♦ Rene Missen, die voorsitter van Durban Land-Rover Hillcrest Villagers, sê die klub het die Eerste Ligaseisoen besonder goed begin met twee stewige oorwinnings oor die nuut bevorderde Queensburgh. Die eerste span het met 64-0 en die tweede met 46-0 gewen.

“Die eerste span was sonder weerga, het ʼn uitmuntende en deeglik afgeronde vertoning gelewer, en die teenstand verdelg.”

Die kaptein, Henkie Groenewald, is as die speler van die wedstryd aangewys.
Missen sê die hoogs gedissiplineerde en uiters talentvolle tweede span het genotvolle, skouspelagtige hardlooprugby gespeel.

“Dit het goeie vrug afgewerp op die nuwe afrigter, Jared Chiochetti, se intensiewe slypwerk voor die seisoen. Dit was net die regte wegspring vir sy span.”

Jono Deighton was die speler van die wedstryd.

Die hoofafrigter, Mike de Kock, was ooglopend in sy noppies met die twee oortuigende oorwinnings, maar sal hom nou toespits op die groep se kragmeting Saterdag op die Durban Shongweni-veld teen Pietermaritzburg Collegians.

Die wedstryde begin 14:00.

Ander uitslae –

Durban
Harlequins 14, Pietermaritzburg Collegians 7; Durban Mets 23, Ballito Dolphins 14.

Richardsbaai
Zululand Rhinos 12, Richardsbaai 10.

Onder 20A (Frank Norrisbeker)
College Rovers 69, Jaguars 7; Varsity College 38, South Coast Warriors 7.

Onder 20B (Kingspark-uitdaging)
College Rovers 24, Newcastle 22; Amanzimtoti 13, Varsity College 12; Durban Collegians 68, Zululand Rhinos 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.