Groot tellings, wegholseges kenmerk Murraybeker

Hillcrest op die aanval teen Durban Collegians. (Foto: Graham Daniel/369 Communications)

Hillcrest op die aanval teen Durban Collegians. (Foto: Graham Daniel/369 Communications)

Groot tellings en wegholseges het Saterdag die eerste ronde van die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se uitklopreeks om die Murraybeker gekenmerk.

Durban Collegians het Hillcrest 84-0 oorheers; die Moorbekerkampioen, College Rovers, het 78-13 teen die Zululand Rhinos van Empangeni gewen; Amanzimtoti het Richardsbaai 50-0 oorrompel; die Jaguars van Durban het Ballito Dolphins 55-7 verniel; South Coast Warriors (Uvongo) het Sentraal (Dundee) 54-22 ondergesit; Varsity College (Durban) het Newcastle Highlanders 48-19 getroef; en Crusaders van Northwood het Westville Old Boys 38-15 gelooi.

Die enigste wedstryd waar die spanne goed teen mekaar opgeweeg het, was dié tussen UKZN Impi en Vryheid waar die studente 19-17 gewen het.

♦ Christo Henderson, die hoofafrigter van South Coast Warriors (SCW), sê dit was `n strawwe, baie koue reis Noorde toe, maar die Suidkusspan het hope fut getoon en die aanvanklike druk goed verwerk.

“Hulle het by die wedstrydplan gehou en dit het op die duur vrug gedra.”

Hy sê Sentraal is `n taai span wat op en van die bal af baie fisiek speel, maar die Warriors se dissipline het gehou en hulle het op die ou end agt puik drieë gedruk.

Ballito moet sy keer ken teen Jaguars. (Foto: Graham Daniel/369 Communications)

Ballito moet sy keer ken teen Jaguars. (Foto: Graham Daniel/369 Communications)

Tienie Viljoen (buitesenter) het 17 punte met `n drie en ses doelskoppe behaal.

Ra-ik Ploker (buitesenter) en Jackson Mqadi (regtervleuel) het elk twee drieë gedruk en Juan van den Berg (agsteman), Tian Malherbe (loskopstut) en Graham Hendriks (losskakel) een elk.

Van den Berg het ook met `n doelskop geslaag.

`n Briljante Viljoen was die speler van die wedstryd.

“Hy het een van sy beste vertonings die seisoen gelewer, sy drie onder die pale was briljant, en hy was in die kol met ses van die sewe skoppe wat hy pale toe gemik het. Sy verdediging was rotsvas en sy aanvallende spel het die teenstanders radeloos gehad.

“Hy het die verdediging etlike kere aan flade geruk en `n hand in vier van die ander drieë gehad,” sê Henderson.

Hy voeg by dat Jonty Fortuin (slot) in die voorhoede uitmuntend vertoon het.

“Hy was briljant in die lynstane en het uitstekend verdedig. Hy het die teenstanders hoofbrekens by die afbreekpunte besorg en is moeilik gestuit wanneer hy met die bal gehardloop het.

scwAgterlangs het Chris Mitchell (skrumskakel) `n stewige wedstryd gespeel en die Warriors se wedstrydplan afgedwing.

“Hy het die pas van die wedstryd versnel wanneer dit nodig was, en het `n ommekeer in die spel teweeg gebring toe hy die spel oopgemaak en SCW drieë begin inryg het. Sy diens van die eerste- en tweedefasebal af was skitterend.”

♦ Boschpick Newcastle Highlanders se hoofafrigter, André Swanepoel, betreur sy span se onvermoë om teen Varsity College (VC) af te rond.

“Highlanders het seker vyf geleenthede geskep om drieë te druk, maar soos die hele seisoen het afronding hulle in die steek gelaat, drie keer met `n oop doellyn voor.

“Eers was dit Alex Booyse (losskakel) wat pragtig gebreek het en met twee manne aan sy buitekant weer probeer breek en die bal verloor het; toe het Bryan Buthelezi (21) en Avatar Phakathi (22) elk met `n oop doellyn voor die bal verloor.

“Die verskil was dat die eerste keer wat VC in die Highlanders se kwartgebied gekom het, het hulle punte aangeteken en hulle was rustyd 21-7 voor.”

“Om sake vir die Highlanders te vererger, het daar weer beserings ingetree en Bradley Swartbooi (binnesenter) en Morné Hattingh (skrumskakel) moes die veld verlaat.

“Die klub is vanjaar buitengewoon swaar deur beserings geraak. Daar is op die oomblik 13 eerstespanspelers met langtermynbeserings op die krukkerlys.”

Newcastle Highlanders - logoSwanepoel sê dit neem egter niks weg nie by `n jong VC-span wat goeie rugby gespeel en hul oorwinning verdien het.

Hy sê Simphewe Zulu, wat by die beseerde Hattingh as skrumskakel oorgeneem het, het `n baie goeie wedstryd gespeel en baie naby aan die toekenning van speler van die wedstryd gekom, maar dit het op die ou einde aan Duran Krummeck, VC se knap losskakel, gegaan.

“Met die beserings van Swartbooi en Hattingh moes die agterlyn geskommel word en dit het nogal ontwrigting veroorsaak. Boonop kon Max Mkhize (buitesenter) nie nie betyds by die werk wegkom nie, en het hy eers in die tweede helfte opgedaag. Die gevolg was dat die agterlyn glad nie aan die gang gekom het nie.

Voorlangs waar die slotte Robert Everson en Nico-Jan Chowles onderskeidelik as agsteman en flank diens gedoen het, het hulle goed gevaar en veral Chowles het sy hart uitgespeel.”

Everson, Chowles en Booyse het Highlanders se drieë gedruk en laasgenoemde het met twee doelskoppe geslaag.

♦ Die Newcastle-manne was nogal in hul noppies om Saterdag die gewese Noord-Transvaalse losskakel Vic Booyens by die klub te ontvang. Hy help die VC-span afrig.

Booyens was in 1965 lid van Volksrust, so 40 km bergop van Newcastle af, se span wat die Murraybeker gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.