Groot uitdagings wag op Springbokke

Foto: 3news.co.nz

Foto: 3news.co.nz

Die All Blacks en Australië gaan ’n gans ander uitdaging aan die Bokke bied as Argentinië, wat in twee kragmetings baie, baie moeilik was.

Die All Blacks het die Wallabies Saterdag in hul tweede kragmeting in Auckland afgeransel en uitgespoeg in wat die toonbeeld van totale rugby was.

Wat kan ons dus verwag van die beste en derde beste span ter wêreld as ons hulle in September en Oktober aandurf?

Ná die slagting in Auckland bestaan die versoeking om die All Blacks op ’n troon te plaas en min fout te soek met hoe hulle speel (dis mos wat die hele rugbywêreld doen). Maar dit was ’n wraakgevulde vertoning wat ook deur geelkaarte en ongedwonge Wallaby-foute beïnvloed is.

So klinies soos wat die All Blacks kan wees, kan hulle geklop of ten minste bedwing word.

Die eerste reël is om hulle fisies uit te daag omdat hulle juis ’n fisiese uitdaging bied en dit as ’n middel inspan. Ditto die Wallabies, juis omdat hulle nie altyd goed in hierdie area van die spel vaar nie.

Die Nieu-Seelanders se vaste vyf, veral Brodie Retallick, was puik teen die Wallabies en het die platform vir hul gevaarlike agterspelers geskep om bresse te slaan en teenaanvalle te loods. Jy gaan nie vorder teen hulle as jy hulle nie daar in toom kan hou nie.

Die Wallabies se skrum en vaste vyf is besig om in statuur te groei, maar hulle is geen Engeland of NIeu-Seeland nie. Hulle bly kwesbaar en trap ook gereeld klei in die vaste los.

Die Springbokke se skrum in Salta was onder groot druk. Dit kan dalk toegeskryf word aan die groenigheid van die jong slotpaar, Eben Etzebeth en Lood de Jager. Dit het later baie beter gegaan met Bakkies Botha in die tweede ry.  Dit was ’n proefneming wat sekere lesse opgelewer het vir Heyneke Meyer en sy span en daar behoort groter klarigheid te wees wanneer die Bokke die Wallabies op 6 September pak.

Daarbenewens het die All Blacks twee drieë teen die Wallabies in Auckland gedruk deur hul lynstaanballe naby die doellyn te bemeester en die rolmaal te bewerkstellig. Retallick, Sam Whitelock en Kieran Read se akkuraatheid in die lynstane is tans amper onfeilbaar.  Die Springbokke se eie springers – hopelik met Victor Matfield in hul geledere – moet hul Australasiese teenstanders daar ontwrig.

Daar word baie gekla oor Suid-Afrika se voorspeler-gedrewe speelstyl en ons eie afhanklikheid van die dryfmaalbeweging.

Die All Blacks gebruik self die dryfmaalbeweging wanneer dit hulle pas (soos teen Australië), maar sal dit waarskynlik nie ruimskoots teen Suid-Afrika kan inspan nie. Ons het verlede jaar juis só ’n drie téén hulle in Wellington gedruk en dit bly een van ons beste wapens.

Die All Blacks het ná die eerste twee rondes van die Rugbykampioenskap met 89.2% die beste verdedigingsrekord in die reeks en het slegs twee drieë afgestaan  –  en dit teen Australië, een van die beste aanvallende spanne ter wêreld.

Vinniger wye balverspreiding,  meer direkte aanvalle op die voordeellyn deur groot agterspelers soos Damien de Allende en slim kort skoppies agter die verdedigers sal ook die Bokke se aanvalsdoeltreffendheid verhoog.

Beide die Wallabies en All Blacks het swak dissipline geopenbaar.  Vier Nieu-Seelanders het geelkaarte oor die laaste twee weke ontvang vir siniese spel, veral by die afbreekpunte. Rob Simmons se geelkaart het die gety in die guns van die All Blacks in Auckland geswaai en tot twee drieë gelei.

Die Wallabies het ook 12 strafskoppe afgestaan in Auckland en die All Blacks 10.

Die Springbokke het slegs agt in Salta teen die Pumas afgestaan (al was hulle onder druk) en nog geen geelkaarte ontvang nie. Hoewel dit op verbetering dui, moet die Bokke hul rekord van goeie dissipline voortsit om strafskoppe (wat skoppers soos Kurtley Beale, Aaron Cruden en Bernard Foley genadeloos sal ontgin) te vermy.

Laastens sal die Bokke die bal beter moet behou en slim moet skop. Ondanks al die goeie werk wat spelers soos Duanne Vermeulen, Bismarck du Plessis en Francois Louw by die afbreekpunte doen, het ons ’n geneigdheid om ons baldraers te stadig te ondersteun.

Richie McCaw het, ondanks ’n geelkaart, ’n klompie strafskoppe by die afbreekpunte in Auckland afgedwing en telkens besit omgekeer. Michael Hooper vermag nou dieselfde – en albei spanne se teenaanval-masjinerie is ook baie gevaarliker as die Pumas s’n.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae