Groot vraag: Moet Bissie vir die Bokke speel?

Bismarck du Plessis – weer in die Bokspan? (Foto: YouTube)

Die groot debat het weer opgevlam: moet Bismarck du Plessis van Montpellier af teruggelok word om stukrag aan die Springbokke te verleen wanneer hulle in Junie in toetse teen Wallis en Engeland speel?

Wat dan van Akker van der Merwe en die ander plaaslike spelers?

Terwyl daar angstig op die uitslag van die skandering van ʼn liesebesering gewag word wat Malcolm Marx Saterdagoggend in Wellington teen die Hurricanes opgedoen het, krap dit die kaarte van die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, deurmekaar.

Kom ons aanvaar dat Marx die toetse sal misloop, want hoekom is hy op aanbeveling van die Lions se dokter huis toe gestuur?

Marx se adjudant, Bongi Mbonambi, is steeds beseer en Chiliboy Ralepelle, wat verlede jaar derde in die ry was (hoekom weet ʼn mens nie) sukkel om die Sharks se Superspan span te haal, hoewel Erasmus hom na een van sy beplanningskampe (hoekom weet ons ook nie) uitgenooi het.

Erasmus sal na alle waarskynlik vier hakers in sy groep van 40 spelers insluit waaruit die twee Springbokspanne gekies sal word. Met Marx dalk uit die prentjie, is Du Plessis en Adriaan Strauss voor in die ry, met Van der Merwe, Jaco Visagie, Ramone Samuels en Robbie Coetzee wat om die ander twee plekke veg.

Du Plessis (33) het in sy Springbok-speeldae nie sy gelyke gehad nie. Hy het die laaste van sy 79 toetse op 30 Oktober 2015 teen Argentinië by die Wêreldbekertoernooi gespeel voordat hy na Frankryk verhuis het. Dié vurige speler is steeds een van Montpellier se ysters, maar hy sal na alle waarskynlikheid die toets teen Wallis misloop omdat Montpellier dié dag in die Franse Top14-eindsrtyd betrokke kan wees. Hy sal dus eers vir die reeks teen Engeland oorweeg kan word.

♦ In Engeland is daar ook ernstige bedenkinge oor die moontlike insluiting van die Hurricanes-flank en kaptein, Brad Shields, teen die Bokke.

Shields, wat vir All Blacks se o.20-span gespeel het, se ouers is in Brittanje gebore en hy is dus onmiddellik verkiesbaar, maar watter boodskap stuur dit aan die plaaslike talent in Engeland uit?

Ná die toetsreeks teen die Bokke keer Shields boonop terug na Nieu-Seeland om nog ʼn paar wedstryde vir die Hurricanes in die Superrreeks te speel voordat hy na Engeland verhuis.

Dan word iemand soos die vleuel Chris Ashton, wat vir Toulon uitdraf, oor die hoof gesien omdat hy oorsee speel.

Maak dit enigsins sin?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Los maar. ·

Kan jy aan niemand beter dink as Ralepelle, Visagie, Samuels of Coetzee nie? Hulle is bitter ver van Springbok gehalte af. Wil jy nou hê die Bokke moet weer soos n klomp paloekas lyk en speel soos laasjaar? Van der Merwe kan oorweeg word ja, hy gaan nie vir baie lank uit die span bly nie.

thys swart ·

los Bismarck hy is oud en sy lojaliteit is nie meer by die bokke nie . dit geld vir al die ander wat weghol na ander plekke . ons kan sonder hulle doen

BenaYaHU ·

@thys swart
Weghol? Regtig!
Jy besef seker nie dat spelers in die moderne era in ‘n professionele hoedanigheid meeding nie (maw. dit is hul brood en botter), of dat daar heel moontlik sekere faktore in oorweging gebring kan word waarvan jy, op jou gemakstoel, absoluut geen begrip van mag he nie. Verder, soos te verwagte in die professionele era, behoort geen speler wat wel vir ‘sy/haar land’ GEKIES word (nie hul eie besluit nie, behalwe om die keuring te aanvaar), enigsins ‘n probleem te he met lojaliteit nie. Anders behoort geen afrigter wat sy/haar sout werd is, daardie individu te KIES nie. Dit mag dus vir jou beter te wees om eerder stadig om te gaan met ‘n ondeurdagte uitlating(s), en moontlik twee keer te dink voor jy sommer goedsmoeds jou mening lig..

Derick ·

Los tog asseblief die ou manne om hul rugby in Europa te speel en kies jong bloed wat honger os om te wen!

Leo ·

So Derick, geen Cheetah of EP King(LOL) mag gekies word nie, hulle speel ook mos in Europa

nico k ·

Kies die beste. Maak nie saak hoe oud of waar hulle speel nie. Nie dat ek daarmee sê Bismarck is die beste nie. Ek het hom in jare nie sien speel nie. Maar ek glo Rassie hou daardie ouens dop.

Nico ·

Julle kan kies wie julle wil stop eerder die inmenging van die regering in sport dan sal ons weer wen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.