Grootste All Black-legende en SA vriend sterf

Colin Meads (Foto: YouTube)

Een van die beroemdste rugbyspelers van alle tye en ʼn groot vriend van Suid-Afrika is in Nieu-Seeland dood.

Die voormalige All Black-speler Colin Meads is op sy tuisdorp, Te Kuiti, aan pankreaskanker dood, ʼn jaar nadat hy met dié siekte gediagnoseer is. Hy was 81 jaar oud.

Meads, ʼn klipharde voorspeler wat met ʼn ridderskap vereer is, het die All Blacks tussen 1957 en 1971 in 55 toetse en 78 ander wedstryde verteenwoordig. Hy was die span se kaptein in die 1971-reeks teen die Britse Leeus.

Dié legendariese skaapboer het sy provinsiale rugby vir King Country gespeel en sy klubrugby vir Te Kuiti.

Sir Colin was ʼn groot vriend van Suid-Afrika en het onder meer die land in die laat jare negentig van die vorige eeu saam met die ewe beroemde Britse Leeu Willie John McBride en Springbok Frik du Preez deurreis om, in die lig van toenemende plaasmoorde, geld vir plaasveiligheid in te samel.

Hy het ʼn jaar of wat gelede aan ʼn Nieu-Seelandse kontreikoerant gesê dit was een van die toere wat hom die meeste bybly.

In weerwil van sy vreeslose en genadelose spel was Meads bekend vir sy vriendelike en aangename geaardheid en sy nederigheid.

Meads wat as “Pinetree” bekend was, het in tien van sy 55 toetse teen die Springbokke gespeel.

Sy eerste kennismaking met die Springbokke was toe die All Blacks in 1960 in Suid-Afrika kom toer het. Hy het in al vier toetse gespeel – twee keer slot, en een keer elk flank en agsteman – en het ʼn drie gedruk in die tweede toets wat die All Blacks met 11-3 gewen het.

Die 24-jarige Meads het in 20 van die 26 toerwedstryde gespeel, ses drieë gedruk en die span in sy laaste wedstryd, teen ʼn Transvaalse vyftiental, die eerste keer aangevoer.

Toe die Springbokke in 1965 in Nieu-Seeland deur die All Blacks opgekeil is, het hy en sy broer Stan die swartspan se slotpaar gevorm, en geen geringe aandeel in die Bokke se onderwerping gehad nie.

Meads was in 1970 saam met die All Blacks terug in Suid-Afrika, maar het weens ʼn gebreekte arm net in agt wedstryde, insluitende die laaste twee toetse, gespeel.

Sy arm is in die kragmeting teen Oos-Transvaal gebreek, ʼn wedstryd waarin hy in die voorry gesak het. Desondanks het hy die wedstryd voltooi, en toe ʼn dokter bevestig die arm is af, glo opgemerk: “Ons het minstens die wedstryd gewen.”

Colin Meads

Al was Brian Lochore die toerkaptein het Meads die 1970-span in vyf van sy agt wedstryde aangevoer.

Hy was ook een van die internasionale spelers wat in 1964 aan die drie feeswedstryde deelgeneem het om die Suid-Afrikaanse Rugbyraad se 75ste verjaardag te vier.

Toe die Nieu-Seelandse rebellespan, die Kavaliers, in 1985 Suid-Afrika besoek het, was Meads die afrigter; en in 1995 was hy die bestuurder van die All Black-span by die Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika.

Hoewel hy reeds ernstig siek was, kon Meads darem nog in Junie die standbeeld onthul wat op Te Kuiti vir hom opgerig is.

Rugby Nieu-Seeland het geweier om ʼn duit daartoe by te dra “omdat daar te veel All Black- en Black Fern-legendes is wat op standbeelde kan aanspraak maak”.

Ewe onverklaarbaar is die feit dat Wêreldrugby eers in 2014 vir Meads plek kon inruim in sy roemsaal wat in 2006 opgerig is. Selfs Zimbabwe en die Cheetahs se Kennedy Tsimba het toe (2014) al twee jaar lank daar gepryk.

Meads self het hom nie daaraan gesteur nie. Daarvoor was hy te plat op die aarde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hermanus ·

Hy was een van die groot manne in ‘n tyd toe manne nog manne was… Inderdaad ‘n legende en tereg so, sy trots om vir die land van die silwervaring te speel het nooit gekwyn nie. Al het ek hom nie persoonlik geken nie voel ek tog so ‘n weemoedigheid in my hart vanaand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.