Groter Wêreldbeker sal onding wees

Wêreldbeker (Foto: sarugby.co.za)

Wêreldbeker (Foto: sarugby.co.za)

Agge nee, Wêreldrugby (die ou Internasionale Rugbyraad) kan seker nie ersntig wees om die Wêreldbekertoernooi tot 24 spanne uit te brei nie.

Die uitvoerende hoof, Brett Gosper, het vandeesweek by ‘n onbyt gesê dat dit glo onafwendbaar is om nie 2023 se toernooi uit te brei nie.

Die volgende twee toernooie (vanjaar in Engeland en in 2019 in Japan) word  reeds uitgebrei tot 20 spanne.

Volgens Gosper kan 2023 se toernooi (Suid-Afrika staan saam met Ierland, Italië  en die VSA voor in die ry om dit aan te bied) uit 24 spanne bestaan.

Kyk, die man was jare lank betrokke by ‘n groot advertensiemaatskappy en het in 1980 vir Australië se o.20-span teen die All Blacks gespeel. Hy was op `n kol ook kaptein van Italië se sewesspan en weet seker hoe om die koffers te vul.

Maar ondanks Wêreldrugby se droom om ontluikende rugbylande in Asië en die VSA te ontwikkel, moet die rugbybase besef dat `n mens eers moet kruip voordat jy kan loop.

Ek doen geensins afbreek aan kleiner rugbylande soos Roemenië (in volgorde van 17 tot 24 op die jongste ranglys), Kanada, Rusland, Uruguay, Spanje, Namibië, Portugal en Korea nie, maar hulle kanse om tot die kwarteindronde te vorder, is feitlik nul.

Die volgende ses spanne op die ranglys (van 25 tot 30) is België, Zimbabwe, Hongkong, Duitsland, Chili en Moldawië. Hulle kanse is minder as nul.

Hoeveel lande het werklik in een van die toptien ontwikkel sedert die Bokke in 1995 die eerste keer deelgeneem het?  As ek na die jongste ranglys  kyk  (Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Ierland, Engeland, Wallis, Australië, Frankryk, Argentinië, Samoa en Skotland) nie een nie, hulle was almal al jare lank daar.

Japan (11de) is die ontluikende reus, maar het ook  in 1995 se toernooi gespeel.  Onthou u nog die telling teen die All Blacks? 145-3. Hoeveel spelers (en afrigters) van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië hou nie die Japanse liga aan die gang nie?

Ek dink ook dadelik terug aan 1995, toe Max Brito van die Ivoorkus verlam is in `n groepwedstryd in Rustenburg. Dié tragiese voorval  kon in enige wedstryd gebeur het, maar weet u waar is die Ivoorkus nou op die ranglys? Hy is 46ste. Ontwikkeling?

Rugby moet uitgebrei en ontwikkel word, maar as die reëls (veral die rolmale ná ‘n lynstaan) nie verander word nie, het die kleintjies geen kans nie. As die All Blacks, Bokke en Wallabies nie eens  ‘n rolmaal kan stuit nie, hoe op dees aarde kan Hongkong en Duitsland dit doen?

Hou die WB-toernooi by 16 spanne, vyf weke is lank genoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

*Chris ·

Hou dit by 16 spanne. Hou 2 wereldbekers….1 vir die 16 sterker spanne soos dit nou is en die ander wereldbeker vir opkommende lande en dit vind dieselfde tyd plaas of ‘n week of wat daarna. Die span wat laaste eindig in die 16spanne speel ‘n promosie relugasie uit met die span wat 1ste kom in die opkommende lande.
As die wereldbeker vergroot gaan word na 24spanne is die kanse groter vir beserings. Die swakker spanne is geneig om alles te gee en soms met onge-oorloofde spel weg te kom en goeie spelers se loopbaan kort te knip.
Dis dieselfde met die super 15. Deel dit op in ‘n A en B afdeling dan sal die spelers minder speel en beserings sal beperk word. SARU pleit mos dat sy gekontrakteerde spelers minder moet speel. As die EP Kings volgende jaar toegelaat word dan kan die A afdeling 8 spanne he en die B afdeling ook 8 spanne. Die reekse kan dan se nou maar ‘n super A reeks wees en ‘n B reeks wees. Promosie relugasie sal dan bepaal wie skuif op en wie skuif af. Dit sal ook bepaal wie van SA, NZ en Aus het die meeste spanne in die super A en wies die beste rugbyland in die Suide.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.