Grys hare vir die nuwe Bokafrigter

springbok-logoDis `n tsoenami wat niemand kan keer nie, maar op die lange duur kan Springbokrugby aan die kortste ent trek.

Die Suid-Afrikaanse rugbyspelers skep en skep en niemand misgun hulle om hul inkomste in die buiteland aan te vul nie.  Wie sal `n aanbod van 23/1 (die rand se waarde teen die Engelse pond) van die hand kan wys?

Maar dis een van die probleme waarmee die nuwe Springbokafrigter opgesaal sal wees – hoe om ‘n fyn balans te handhaaf.

Dis wel waar dat die nuwe Bok-kontrakte van die jonger spelers in die land sal hou en dat `n heen-en-weer na Japan die geldwolwe van die voorstoep sal hou,  maar hoe gemaak met spelers soos Bryan Habana, Ruan Pienaar, die Du Plessis-broers,  Duane Vermeulen, Schalk Burger, Francois Louw en Willem Alberts?

Burger (Saracens) en Louw (Bath) het juis vandeesweek aangekondig dat hulle Engelse rugby sal verryk. Burger, wat tans in Japan speel, sal ná die Superrugby-reeks vir Saracens beskikbaar wees en Louw het sy bande met Bath tot 2019 verbreed.

Dis nogal ironies dat die Bokke een van die enigste spanne in die Rugbykampioenkape sal wees wat spelers sal kies wat hul brood en botter oorsee verdien.

Die All Blacks, ondanks `n magdom sterre soos Dan Carter, Ma’a Nonu, Conrad Smith, Colin Slade, Charles Piutau, Fancis Saili, Ben Franks en Jeremy Thrush wat nou oorsee speel, het nie hul regulasies verslap nie. As jy vir die All Blacks wil speel, moet jy in Nieu-Seeland rugby speel.

Die Wallabies het, in `n poging om die Wêreldbeker te verower, hul regulasies effens verslap wat Matt Giteau en Drew Mitchell in staat gestel het om in die WB-toernooi te speel.  Dit sal interessant wees om te sien of hulle daarby sal hou, want die uittog van Wallabies raak al hoe groter.

Die Argentynse Poemas het die meeste van hul sterre teruggelok en as jy vir die Poemas wil speel, moet jy Superrugby vir die Jaguares speel.

As die nuwe Bok-afrigter vernuwing wil skep, hoe sal hy die speelpatroon kan inprent as baie van sy spelers oorsee speel? Hier en daar sal hy `n oefenkamp kan inpas, maar as dit genoeg tyd om die denkwyse te verander?

Dis niks nuuts in SA rugby nie. Peter de Villiers het voor daardie probleem gestaan, só ook Heyneke Meyer  … en die nuwe afrigter sal eweneens slapelose nagte hieroor hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Arie ·

Die nuwe afrigter gaan die spelers oorsee net daar los, die meeste swart spelers speel hier en cosatu slaan die kitaar.

Arie ·

Ek glo nie, die meeste swart spelers is hier en cosato trek die toutjies, dis n heel ander ball game vir die nuwe afrigter wat seker deur cosatu aangewys sal word, alhoewel dit nooit erken sal word nie!

Nico ·

Die enigste antwoord is wil jy vir die Springbokke speel, speel jy NET in SA. Die wat hul botter aan albei kante wil botter deur te sê dit is nig ‘n eer om vir die Bokke te speel praat die grootste snert onder die son. Behalwe vir die pond/dollar gaan baie oor hulle nie seker is of hulle wel vir SA gaan speel met die alhoe groter wordende Cosatu /ANC eise. Kry hulle van oorkant af wel kans vir die Bokke smile hulle mos al die pad en die spelers wat wel alles hier insit word verneder. Ek wil vir alle jong spelers wat nou die volwasse lewe na skool moet begin sê gaan dadelik oorsee en kwalifiseer om vir daar die land te speel terwyl jy nog sommer jonk is as jy dink jy het dit maar Cosatu/ANC gaan jou uit span hou. Op die manier is jy nie ‘n draadsitter nie en gee jouself ‘n regverdige kans waar niks behalwe jou spelpeil sal bepaal gaan jy vir ‘n nasionale span speel of nie. Dit kan op die lang termyn vir ons rede gee om ‘n nasionale span te ondersteun buite SA want dit gaan op die langtermyn dan SA spelers wees waarvoor ons skree!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.