Gus of Bill? Vir wie gaan Saru stem?

rugbypale

Argieffoto.

Die dinamiese en uitgesproke Argentynse rugbybaas Agustin Pichot gaan op 10 Mei probeer om Wêreldrugby se nuwe voorsitter te word.

Gus, soos Pichot bekend staan, het 71 toetse vir sy land gespeel en gaan die meer konserwatiewe Engelse bulhond en staatsman Bill Beaumont, wat ʼn oud-Engelse en Britse en Ierse Leeus-kaptein was, as voorsitter uitdaag.

Beaumont was nog altyd een van Suid-Afrika se groot vriende. Hy het immers in 1980, toe daar reeds teenkanting teen die Leeus se toer na Suid-Afrika was, vasgeskop en sy span aangevoer.

Pichot (die huidige ondervoorsitter) het as adjudant die aanslag van die Fransman Bernard Laporte, wat vir die Franse gespeel en afgerig het en ook hul land se minister van sport was, teëgestaan.

Om verkies te word, kort Pichot 26 van die 51 stemme wat op die spel is.

Europa het 22 stemme, Oseanië 10, Suid-Amerika 6, Afrika 5, Noord-Amerika 4 en Asië 4.

Pichot waai soos ʼn vars briesie deur rugby, hy word sterk deur Nieu-Seeland, Australië, Oseanië en Noord- en Suid-Amerika ondersteun, maar gaan hy genoeg steun hê?

Ek was bevoorreg om in 2002 ʼn lang onderhoud met Pichot, wat Engels goed magtig was, in die ou Pam Brink-stadion in Springs te voer waar die Bokke die Poemas die Saterdag sou pak.

Pichot het net sy kop geskud en gevra hoekom die Poemas in kleiner afgematte stadions moes speel, terwyl Loftus Versfeld, Ellispark en Nuweland hulle nie beskore was nie.

“Eendag, wanneer ek baas is, gaan alles verander,” het Pichot laggend gesê.

Min het ek toe besef dat Pichot se woorde waar kan word.

Pichot het altyd met groot lof van Suid-Afrika gepraat, wat die Poemas op rugby se wêreldkaart geplaas het. Hy het oor Dok Danie Craven en Izak van Heerden, wat baie tot die Poemas se opgang en welslae bygedra het, gesels.

Pichot wou destyds al ʼn groter deel van die geldkoek hê, een wat deur die Europeërs gebak en gesny word.

Die groot probleem is dat ek nie weet of hy sal kan staatmaak op Suid-Afrika se steun nie, wat jare lank al poog om ʼn voet in die deur in die Noordelike Halfrond te kry, daar waar die toutjies getrek en die geldkoffers gevul word.

Die Cheetahs en Southern Kings speel reeds in die Pro14-reeks en daar word al hoe meer bespiegel dat die Springbokke deel van ʼn vergrote Sesnasies kan word.

Vanweë die onsekerheid oor die Covid-19-pandemie, vir wie gaan die SA afvaardiging stem?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Pinchot. Rugby het nuwe energie en visie nodig. Dis moeilik, on tradisie en ‘n toekoms visie te balanseer. Ek glo Pichot is jonk maarr ervare genoeg om dit reg te kry.

Die Wolf ·

Bill moes laaaaaankal gegaan het. Kyk hoe rond word hy van lekker lewe terwyl Rugby besig om agteruit te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.