Haaie pak Bulle in Loftus-eindstryd

Die Bulle se Ruan Nortjé tydens Saterdag se wedstryd. (Foto: Official Blue Bulls/Twitter)

Daar was al baie rooi gesigte en skokke op die rugbyveld en die Bulle was ʼn hele paar keer daarvan aan die ontvangkant.

Maar te oordeel na vanjaar se vertonings, spelpeil en diepte behoort die Bulle gans te veel skietgoed te hê wanneer hulle aanstaande Saterdag op Loftus Versfeld in die Curriebekereindstryd teen die Haaie speel.

Die Haaie het Saterdagmiddag op Kingspark in Durban tot die eindstryd deurgedring toe hulle Griekwas met 28-24 geklop het nadat hulle rustyd met 17-9 voor was. Maar dit was geensins ʼn vertoning wat hulle moed sou laat skep het voor hulle die Bulle aandurf nie.

Daarvoor was daar te veel foute, verkeerde besluitneming, swak hantering en swak dissipline wat hulle in die steek gelaat het. Boonop is die reserwe-skrumskakel, Cameron Wright, beseer en hang daar ʼn vraagteken oor sy fiksheid vir die eindstryd.

Dit was ook ʼn fisieke wedstryd wat sy tol geëis het. Die Haaie het nou een dag minder om bene te lig nadat die Bulle reeds Vrydagaand die Westelike Provinsie stormgeloop het.

Die Haaie se pak het die oorhand gehad en twee van hul drie drieë is deur die woelige haker Kerron van Vuuren ná rolmale wat op lynstane gevolg het naby Griekwas se doellyn gedruk.

Dan het Gerbrandt Grobler-hulle die lynstane oorheers, was die skrumwerk stewig en het Le Roux Roets bresse met sy stormramlopies geslaan.

Maar is daar genoeg wedstrydwenners, veral om agterlangs saam te kan gesels met die Bulle se Johan Goosen, Harold Vorster, Lionel Mapoe en Cornal Hendriks?

Die Haaie het nie te veel afgewyk van hul gevestigde patroon wat hulle vanjaar sukses gebring het nie, maar as die voorspelers nie teen die Bulle-ysters soos Marcel Coetzee en Arno Botha gaan oorheers nie, hoe gaan hulle die mas opkom?

Punte: Haaie 28 (17): Drieë: Kerron van Vuuren, Marius Louw. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafdoele: Bosch (3).

Griekwas 24 (9): Drie: Adré Smith, Johan Momsen. Doelskop: George Whitehead. Strafdoele: Whitehead (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakes

Die tweede semfinaal gister tussen Griekwas en Sharks was n teleurstelling in vele opsigte. Nie een van die 2 spanne sal enigsins n kans staan teen selfs n Bulle se 2 de span nie. Weereens wys die kwaliteit van afrigting dat Jake White in n klas van sy eie is. Die Sharks wys week na week dat sekere spelers se bevoegdheid kommer wek soos n senter wat hom feitlik in elke wedstryd skuldig maak aan vuilspel, n heelagter wat nie tyd kan lees soos gister en wat werklik net kan skop en niks anders kan doen nie, sowel as n… Lees meer »