Haaie verwelkom Whiteley met ope arms

Warren Whiteley is die Haaie se nuwe lynstaanafrigter. (Foto GB Jordaan)

Warren Whiteley is amptelik deel van die Haaie se afrigterskorps. Die KwaZulu-Natalse rugby-unie het bevestig dat die 33-jarige voormalige Springbok-kaptein voortaan aan die stuur van hul lynstane sal wees.

Whiteley het aan Glenwood High School matriek behaal, maar sy rugbyloopbaan het hom later na Johannesburg geneem waar hy die Leeus éérs as speler en tóé as afrigter verteenwoordig het.

Die gewilde losvoorspeler het sy Springbok-buiging teen Australië in 2014 gemaak, maar ’n rits beserings het sy internasionale loopbaan uiteindelik in 2018 kortgeknip.

“Ons is opgewonde om Warren Whiteley by ons te verwelkom. Sy ondervinding en positiewe invloed op die jonger spelers sal van groot waarde wees,” het die Haaie op sosiale media gesê.

Benewens Whiteley sal Sean Everitt se afrigterspan uit Noel McNamara, Neil Powell en John McFarland bestaan.

Ondanks ’n teleurstellende Curriebeker-seisoen waarin die Leeus kwaai gesukkel het, sal Ivan van Rooyen in sy pos as die Johannesburgers se hoofafrigter aanbly.

Daar word berig dat drie voormalige Springbokke, Jacque Fourie, Ricardo Loubscher en Albert van den Berg, hom sal bystaan.

Verskeie Leeus-spelers het ook reeds na groener weivelde gaan soek. In die jongste geval sal Courtnall Skosan voortaan vir die Northampton Saints in Engeland uitdraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Whiteley se vertrek is kenmerkend van die verval van Leeusrugby.

Louis ·

Dis waar…ek is n groot leeu vir baie jare. Ieta sal moet gedoen word om die unie te red. Huidige spelers nie naby aan goed om teen ander spanne te speel nie. Ja ek weet almal probeer maar as jy nie talent tot jou beskikking het nie koop n span kyk maar vir die bulle nie die beste nie maar baie beter as enige ander span in SA

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.