Haaie wen toe Cheetahs weer teleurstel

Nog ʼn Curriebeker-wedstryd, nog swak besluitneming, nog ʼn verspeelde kans vir die Cheetahs. Dit is tot dusver die treurmare van hul toernooi vanjaar.

Die Haaie het vanmiddag die Cheetahs in Durban met 38 – 31 geklop. Die tuisspan het ses drieë gedruk teenoor die manne van Bloemfontein se drie.

Die Haaie sit nou stewig in die tweede plek op die Curriebeker-punteleer, net vier punte agter die Bulle en nege punte voor Griekwas wat een wedstryd minder gespeel het.

Teen rustyd was die wedstryd nog in die weegskaal met die tuisspan wat 19 – 18 voorgeloop het. Die wedstryd kon nie juis aan die gang kom nie want swak hanteerwerk en slordige aanslane wanneer die bal wel rondgeslinger is, het belowende bewegings kortgeknip.

Kort na rustyd het die Cheetah‑flank Jacques Potgieter sy span se doppie geklink toe hy met sy skouer met ʼn opponent se kop kontak gemaak het. Sy rooikaart het beteken die oormag van Durban was net te groot.

Die tuisspan het nog drie drieë ingeryg, waarop die Vrystaters net met een kon antwoord. Robert Ebersohn is terug in ʼn Cheetah-trui en het as plaasvervanger kort voor die eindfluitjie gaan druk.

Vir die Haaie het haker Kerron van Vuuren twee drieë gedruk.

Die Cheetahs speel Woensdag teen hul Noord-Kaapse bure, Griekwas, in Bloemfontein.

Die Haaie sal weer volgende Saterdag in aksie wees teen die Leeus in Johannesburg.

Nie een van die spanne kan nou ʼn nederlaag bekostig as hulle in die halfeindstryde op 4 September wil speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.