Haas geen teken van Loffie se VSA-kampioen oor

Daar het haas geen teken van die SA afrigter Eugene (Loffie) Eloff se opspraakwekkende Amerikaanse klubkampioen, die Austin Huns, in die Red River-liga oorgebly nie.

Eloff en sy Suid-Afrikaner-oorheersde bestuurspan, tesame met ʼn sterk kern spelers met Suid-Afrikaanse wortels, het verlede jaar die klub van nêrens opgebou om die Red River-liga en uiteindelik die Amerikaanse nasionale klubliga te wen.

Met die wegbreek van die kern van die kampioenspan as Austin Elite na die komende Senior Rugbyliga (MLR), ʼn beroepsliga, ding die Huns se tweede span (amateurs) vanjaar in die Red River-liga mee, na berig word, en is hy ná vyf wedstryde tweede laaste in die streekreeks.

Hy het in sy jongste kragmeting gelykop teen Dallas Harlequins gespeel, nadat hy die vorige wedstryd tussen dié twee spanne met 12-44 verloor het.

Dallas het hom met 79-0 verniel; die Austin Blacks (wat deur Loffie se span as streekkampioen onttroon is) het hom met 61-3 oorrompel; en Glendale Merlins het die oorhand met 60-7 geniet. Die Huns het nog nie teen Little Rock Stormers (laaste op die punteleer) gespeel nie.

Die span het tot dusver net 49 punte behaal en 271 afgstaan.

Die Huns se toestand herinner sterk aan dié van die Duitse nasionale span, wat in die reeks om die Rugby Europa-beker voortstrompel nadat hy sy Suid-Afrikaanse afrigters en spankern weens interne politiek kwyt is. Tot op daardie tydstip was sy kans goed om in aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi te speel.

In die Huns se geval het sowel Eloff as Danie de Villiers, die agterlyn- en aanvalsafrigter, na Suid-Afrika teruggekeer en geniet hulle, minstens voorlopig, ʼn blaaskans van die spanning wat afrigting op topvlak meebring. Dis egter te betwyfel of breiers van hul statuur lank ledig sal sit.

Die Springbok Pedrie Wannenburg is Austin Elite se voorspelerafrigter, dieselfde pos wat hy by die Huns beklee het; en JC de Wet, die Huns se video-ontleder en vaardigheidsafrigter is die agterlynafrigter en tegniese ontleder.

ʼn Gewese Franse toetsspeler Alain Hyardet is die hoofafrigter.

Tussen die Suid-Afrikaans-gewortelde Huns-spelers wat luidens berigte reeds met Elite kontrakte aangegaan het, tel die gewese Kimberliet Hanco Germishuys, ʼn skrumskakel wat in Durban gebore is, Michael Reid, en Zinzan Elan-Puttick, ʼn boorling van Bloemfontein en oudleerling van Greykollege in dié stad.

Germishuys speel tans vir Amerika in die Amerikas-rugbykampioenskap.

Die eienaars van Austin Elite, en voorheen van die Austin Huns, sluit die uitgetrede Amerikaanse kaptein Todd Clever in, wat op sy dag Superrugby vir die Lions gespeel het.

Luidens berigte het die beroepsklub steeds ʼn bedryfsverhouding met die Huns, maar is dit uit ʼn streeksoogpunt noodsaaklik om ʼn omvattender identiteit te skep om die ander klubs in Sentraal-Texas in te sluit.

Elite speel op 11 en 17 Maart en 7 April in vertoonwedstryde in Austin en New Oleans, en begin sy MLR-aanslag op 21 April in ʼn wegkragmeting teen die Glendale Raptors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.