Habana: Van o. 14G-span tot Wêreldrugby se heldesaal

Bryan Habana gaan binnekort in Wêreldrugby se heldesaal opgeneem word. (Foto: Ben Queenborough/Backpage Images Ltd/DPPI via AFP)

Wanneer Bryan Habana in sy speeldae aan ʼn rugbybal geraak het, het toeskouers regop gesit.

Die Springbok-blits het oor die unieke vermoë beskik om van enige plek op die veld ʼn suksesvolle aanval op sy teenstanders se doellyn te loods; soos wat sy Suid-Afrikaanse rekord van 67 drieë in 124 toetse getuig.

Nou gaan hy saam met ander sterre soos Nieu-Seeland se Dan Carter en Frankryk se Thierry Dusautior deel word van Wêreldrugby se heldesaal.

Die geleentheid sal op 29 Oktober, ʼn dag ná die Wêreldbeker-eindstryd, in Parys plaasvind.

Volgens Habana is dit ʼn reuse-eer om deel van die uitgelese rugbygeselskap te wees.

“Van die o. 14G-span op skool tot die Springbokke en nou Wêreldrugby se heldesaal. Ek is baie dankbaar dat God my met ʼn talent geseën het, sodat ek daagliks my droom kan uitleef en om my land te verteenwoordig,” het die 40-jarige Habana op Instagram gedeel .

Hy vertel dat die seëvierende Bok-span van 1995 hom inspireer het om te begin rugby speel.

“Ek wil elke familielid, geliefde, vriend, onderwyser, afrigter, ondersteuner, kritikus en administrateur bedank wat deel is van my reis. Dit is ʼn ongelooflike eerbewys wat Wêreldrugby aan my betoon het.”

Habana is in 2007 as Internasionale Rugbyraad se speler van die jaar aangewys ná sy Springbok-heldedade tydens die 2007-Wêreldbeker in Frankryk. Hy het toe met sy agt drieë ʼn deurslaggewende rol in die Springbokke se sukses gespeel.

Die vleuel het uiteindelik 15 drieë in drie Wêreldbeker-toernooie gedruk; ʼn rekord wat hy met Jonah Lomu deel.

Ander hoogtepunte sluit sy doodsnik-drie teen die Sharks in die Superrugby-eindstryd van 2007 in, terwyl hy ook Europese sukses saam met Toulon in 2014 en 2015 gesmaak het.

Sir Bill Beaumont, Wêreldrugby-voorsitter, het die nuwe heldesaallede vir hul bydrae tot die sport geprys.

“Ons is trots om vyf legendes van die spel vir dié eer te benoem; spelers wat ʼn onlosmaaklike deel van die Wêreldbeker-storie is. Elkeen het ʼn groot rol in die sukses van rugby gespeel en hulle is ongetwyfeld ambassadeurs van die spel,” het Beaumont gesê.

“Hul impak was soveel meer as net dit wat op die speelveld gebeur het. Dit het die sport en die samelewing oortref en rugby na ʼn hoër vlak geneem. Baie geluk.”

  • Spelers wat op 29 Oktober in Parys ingehuldig sal word:

Dan Carter (Nieu-Seeland), Thierry Dusautoir (Frankryk), George Smith (Australië), Juan Martin Hernandez (Argentinië) en Bryan Habana (Suid-Afrika).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pawiljoen Rot ·

Ek onthou toe hy een keer gesprint het teen ‘n cheetah. Die cheetah het daarna sielkundige berading ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.