Halfeindstryd: het die Lions ʼn kans ná Saterdag?

Franco Mostert, ysterslot van die Lions,
stamp vir Jaco Reinach af. (Foto GB Jordaan)

Só sal die Lions nie die Superrugbyreeks wen nie.

Ja, die Lions is weer deur. Hulle is die tweede jaar Suid-Afrika se suksesvolste span, speel weer tuis in die halfeindronde en dra die vaandel vir die res van die land.

Dis iets waarop die ander spanne hulle nie kan roem nie, al het dit nie vir die Lions volgens die draaiboek teen die Sharks verloop nie.

Volgende Saterdag op Ellispark wag die Hurricanes op Jaco Kriel-hulle nadat die Lions Saterdag op Ellispark met 23-21 in die kwarteindronde teen die Sharks deurgeskraap het.

Die Hurricanes het reeds Vrydag in Canberra die Brumbies met 35-16 geklop en het die afgelope twee dae in Sydney deurgebring. Hulle het nie terug na Wellington gereis nie, in afwagting op die Ellispark-uitslag, en vlieg nou so gou as moontlik na Johannesburg (ʼn vlug van 14 uur). Dis beslis nie ideaal nie, maar dis iets waaraan die oorsese spanne al gewoond geraak het.

♦  In die ander halfeindstryd kom die Crusaders in Christchurch teen die Chiefs te staan, wat die Stormers met 17-11 op Nuweland geklop het. Die Crusaders het die Highlanders met 17-0 in uiters ongure toestande in Christchurch geklop en die beste van al die spanne vertoon.

Toe die Hurricanes die Lions verlede jaar op Ellispark (en in die eindstryd in Wellington) geklop het, het hulle die Lions se skakelpaar onder druk geplaas. Saterdag het die Sharks dit óók gedoen, en reggekry.

Wanneer Elton Jantjies die dag die kluts kwyt is, is daar net een pad: afdraande. Sy skopwerk pale toe ly daaronder en sy taktiese opsomming het veel te wense oorgelaat.

Iets het gehaper. Het hy dalk ʼn besering opgedoen; of was hy siekerig en hoekom is hy afgehaal?

Dan het die Lions ook op die treinspoor gespeel deur Faf de Klerk as plaasvervanger-losskakel op te stuur. Ja, daar was nie ander plaasvervangers beskikbaar nie, want Rohan Janse van Rensburg was reeds op en die heelagter/vleuel Sylvan Mahuza was die enigste ander keuse.

Ellispark was Saterdag nie ’n plek vir sissies nie (Foto: GB Jordaan)

Ross Cronjé was ook merendeels net ʼn skakel. Waar was sy vlymskerp breekslae en sy vermoë om die bal voor die voorspelers te hou?

Dan besef ʼn mens ook die waarde van die beseerde kaptein Warren Whiteley, wat steeds langs die kantlyn is. Hy bring kalmte, neem meestal die regte besluite en gee die Lions ʼn bykomende lynstaankeuse, veral soos toe Franco Mostert met ʼn geelkaart afgestuur is.

Die Sharks het byna die “onmoontlike” vermag om op Ellispark te wen. Dit was vir hulle soos ʼn eindstryd en ek weet nie of hulle veel verder sou gevorder het nie. Maar daar is hoop, baie om op te bou.

♦  En die Stormers? Baie beter as verlede jaar, maar daar is nog ʼn lang paadjie om te loop. Hulle was aan die begin van die reeks kookwater, maar kon net 70 kilometer van die Comrades suksesvol aflê. Die Chiefs is Nieu-Seeland se derde beste span en nie die alleen-maatstaf waaraan jy jou wil meet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Frans C ·

Die wedstryd het veel ingemeen met die Curriebeker eindstryd in 2014, toe verbrou die Goue Leeus 21 met swak skopwerk en wen die WP 19-16.Saterdag word 18 punte verbrou
en skraap die Leeus naelskraap deur.
Swak besluitneming het weereens ‘n drie op ‘n skinkbord aan die Sharks gegee.Pleks om ‘n
skrum op die middellyn te neem word ‘n wilde ingooi endeskep en gaan druk die Sharks verspot maklik.

Met die tiepe spel wag ‘n groot pak slae teen die Hurricanes,wat meesters is in die uitbuiting van teenstander se foute. Die Brumbies het gewys dat die Hurricanes geklop kan word as hul voorlangs vasgevat word,Ongelukkig kon hul dit nie vir 80 minute doen nie.

Wat my pla van die Leeus dat hul nie ‘n spesialis losskakel op die bank het nie,wat ook ‘n betroubare skopper is nie.Bosch was op die dag ‘n beter losskakel as Jantjies wat seker sy swakste wedstryd van die seisoen beleef het.Hoop dit is net ‘tydelike insinking en dat hy met ‘n besering speel nie.

Dat die BIL-toerspan ‘n invloed op rugby uitoefen is duidelik uit dat alle spanne nou alhoemeer die opskietverdediging gebruik om veral aanvallende spanne se speelruimte te beperk.Hierdeur word alle reëls ingestel om hardlooprugby te bevorder in die asblik gegooi.

Callie ·

Asb. Jantjies onder druk verloor sy hele composure. Gaan kyk na van 3 jaar terug. Mag die leeus dit ook besef voor dit te laat is

Jaybee ·

My mening is dat die Lions baie gelukkig was om te wen,, hulle sal beslis baie beter moet speel teen die Hurricanes. Jantjies het een van sy swakste wedstryde gespeel. Ek hoop nogtans hulle kan die kompetisie wen.

Henry ·

Jammer dat die Leeus op hierdie laat stadium, steeds Jantjies se gebrek aan BMT (Big Match Temperament) moet trotseer – sonder ‘n plaasvervanger wat kan kom red.

Res van die span doen hul ding en kan teen die heel beste op gelyke voet kompeteer. Maar sonder ‘n losskakel wat rigting moet gee en sonder ‘n stelskopper wat op hierdie vlak minstens 90% suksesvol moet wees, gaan dit baie moeilik wees.
Om dit sagkens te stel

Hessel ·

Die Leeus moet ons onthou, was nie een of twee punte beter as die sharks nie – maar wel 18. Warren sal saam stem. Toe Jantjies sy EERSTE skop regvoor die pale verbrou het, moes Ruan oombliklik oorgeneem het. Eish Warren,SA mis jou, en die Leeus.

Danie ·

Wel persoonlik dink ek die leeus is nie op gewasse teen die oor see se spanne nie en hulle gaan volgende naweek op hulle moses kry net soos verlede jaar….wel eerlik nie 1 van die SA spanne is regtig goed teen die spanne van nz en australia nie klein foutjies wat die game menigte male al gekos het van dissipline tot afronding om drieë te druk

Johannes ·

Ek stem oor NZ spanne maar Auzie spanne is al reeds deur leeus gewen en nie net met 1of 2 punte nie

Johannes ·

Selfs Hantjies se skopstyl was anders as gewoonlik selfs die tv kommentators het dit opgemerk

vrikie ·

Geen ander Suid Afrikaanse span kan roem dat hulle 2 jaar na mekaar tuis halfeindstryde gehad het nie volgens Pieter Kruger. Is die Bulls nie die enigste span wat al die kompetisie gewen het nie? 3 keer as ek reg onthou

Nico ·

Die leeus gaan nie weer so swak wees nie hulle gaan die beker ellispark toe bring

Will ·

Die Leeus het hulle swakste dag beleef teen ‘n begeesterde Sharks span. Om steeds die wedstryd te kon wen, bewys die ongelooflike karakter en temperament van die span. Die Leeus besef wat teen die Hurricanes op hulle wag en sal gereed wees.

Anoniem ·

Ja nee Jantjies was Saterdag heeltemal die kluts kwyt. Hoekom is dit dat hy in sulke belangrike wedstryde so droogmaak.? Dit gaan die Lions kos. Hoop maar net dit is tydelike insinking van sy spel.

Nico K ·

Ek glo mos daaraan dat die meeste spanne ‘n swak wedstryd opvolg met goeie wedstryd. Die Leeus het ‘n week teruf goed teen die Haaie gespeel en die Haaie swak. Ek het geraai die Haaie gaan nou ‘n goeie wedstryd hê. (Maar het nie geweet die Leeus gaan nou so swak wedstryd hê nie.) Volgens die wet van gemiddeldes gaan volgende week weer hul goeie wedstryd wees.

Josua Keys ·

Jantjies het steke in sy gesig gehad van die vorige wedstryd en ja hy het droog gemaak maar julle wat self rugby gespeel het weet, indien jy in n oefening of vorige wedstryd ‘n besering opgedoen het en jy gaan speel n wedstryd gaan jy nie ook die besering beskerm nie, Jantjies se besering was nie ernstig om hom op die kantlyn te los nie maar kon wel gewees het sou hy dit verder beseer Jaco, Ross en Kwagga moes hom ondersteun en dit het bietjie die spel patroon verander. Dit gaan beslis ‘n ander wedstryd wees komende Saterdag, die leeus gaan beslis ‘n baie beter wedstryd speel as teen die Sharks, my enigste bekommernis is steeds Ruan Ackermann op agtsteman, dit was Saterdag weer duidelik dat dit nie sy posissie is nie maar eerder Slot of vlank, Kwagga of Jaco Kriel moet die rol vul ek sal selfs Franco Mostert daar gebruik en Ruan op slot inskuif dit gaan die leeus meer slaankrag en aanvals geleentheid gee en sal vinniger by die afbreekpunte uitkom. In die laaste paar minute het Johan vir Kwagga op agtsteman gebruik en daar was duidelik n verskil agter. Ruan is n stoomroller speler soos Andries Ferreira en dit is waar ons hom gaan nodig kry ek hoop Johan en Swys kan die voorstel oorweeg en dit dalk inoefen vir Saterdag.

Josua Keys ·

Cyle Brink is ook n opsie op agtsteman en hy het al n paar keer die rol gevul.

Lol ·

Lions se oorvloedige Springboktruie het na hul kop toe gegaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.