Halfeindstrydrillers laat 2 kampioene sneuwel

assupolDie Noorderbonde se Assupolreeks se halfeindronde het twee rillers opgelewer waarin twee kampioene albei op hul tuisvelde in die doodsnikke teen die verwagting in uitgeskakel is.

Die Naka Bulle (Blou Bulle) het die internasionale Goue Bekerkampioen, Rustenburg Impala (Luiperds), met 32-30 geklop; en Quins-Bobbies-rugby (QBR) het die Blou Bulle se Carltonkampioen, Centurion, met 36-30 getroef.

Naka, verlede jaar se Carltonnaaswenner, speel dus eerskomende Saterdag op Loftus Versfeld in die eindstryd teen QBR, `n samesmelting tussen die Pretoriase spanne Harlequins en Polisie, laasgenoemde `n semifinalis in verlede jaar se Goue Bekerreeks.

Ben Eybers, die voorsitter van QBR, reken die halfeindstryde het getoon vanjaar se Carltonreeks kan taaier as die Curriebeker- Eerste Liga wees.

In die ander Groep A-eindstryde durf Impala II vir QBR Rooi, en Naka o.21 die Universiteit van Johannesburg o.21 (Goue Leeus) aan.

In Groep B pak Northam Rhinos en Potgietersrus (albei Limpopo) se eerste spanne mekaar, en Witbank Ferro’s II (Pumas) meet teen Wits II (Goue Leeus) kragte.

Hartbeespoort en Bronkhorstspruit (albei Blou Bulle) spook die eindstryd in Groep C uit.

naka-bulleGroep A

Rustenburg Impala teen Naka Bulle

♦ Buks Burger, Naka se klubbestuurder, laat weet dit was op die ou end `n enkele doelskop wat die verskil tussen die twee spanne gemaak het. Elkeen het vier drieë gedruk en met twee strafdoele geslaag, maar Naka het drie drieë teenoor Impala se twee verdoel.

Hy bestempel dit as `n titaniese stryd waarvan Naka in die doodsnikke die wendrie aangeteken het.

“Naka se voorspelers het het indrukwekkend in die skrums vertoon en die agterlyn was deurgaans gevaarlik op die aanval.

“Dit was egter geen maklike wedstryd nie, en die oorwinning kon tot die einde enige span s’n wees. Dis nooit maklik om Impala op sy tuisveld, met onbekende skeidsregters, te klop nie. Naka het egter deurgaans geveg, en nooit moed opgegee nie.”

Burger berig Marcel Human het twee puik drieë ná sterk lopies aangeteken.

“Dié speler wat hard in die geslote seisoen gewerk het, lyk indrukwekkend,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Gerhard du Peez (flank) en Jean van der Westhuizen (slot) is albei vir hul harde werk met drieë beloon.

“Die jong nuweling-losskakel Dillan du Buisson het in sy eerste opdrafwedstryd bestendig vertoon, en met twee strafdoele en `n doelskop geslaag, en Jean Grobler het twee redelike moeilike doelskoppe in punte omskep.”

Impala se tweede span het met 20-19, en Naka se o.21-span met 90-7 gewen.

qbrCenturion teen QBR

♦ Eybers sê die wedstryd teen Centurion was `n naelkoustryd waarin QBR Swart van agter af gekom het om die Carltonkampioen in die laaste sekondes met 36-30 te troef.

“QBR was vinnig 0-14 agter, maar het nie teen `n begeesterde Centurionspan tou opgegooi nie. QBR moes uiteindelik ses drieë druk om die knoop deur te hak.

“QBR Rooi het gewys dat hy vanjaar `n gedugte span gaan wees deur Tukkies II oortuigend met 40-10 te klop.”

♦ Charles Pelser, die klubbestuurder van Centurion, sê dis nou terug oefenveld toe vir die klub met die oog op die verdediging van sy Carltontitel.

centurionHy sê Centurion het sy ritme in die laaste paar minute verloor en `n vaskopbal in die laaste skrum afgestaan wat tot Quins se wendrie gelei het.

Die Blou Bulle se kampioen het die laaste tien minute met slegs 13 man gespeel.

Curtley Brinkhuis, JP Burger en JP du Plessis het Centurion se drieë gedruk, en Steven Moir het 15 punte behaal deur al drie te verdoel en drie strafdoele deur die pale te jaag.

Groep B

Wat die eerste spanne betref, het Northam vir Middelburg (Pumas) met 55-26 verslaan, en Potgietersrus het met 73-5 teen Lonmin (Luiperds) gewen om vir die halfeindronde in Groep B in aanmerking te kom.

♦ Flip de Kock, die sekretaris en hoofafrigter van Northam, se dit was die eerste keer dié seisoen dat sy span se samespel gewis tot sy groot telling bygedra het.

“Die voorspelers het die skrums oorheers, en agterlangs het die Rhinos die gapings benut.

“Northam het vroeg in die eerste helfde baie goeie aanvalsgeleenthede geskep, maar dit nie afgerond nie anders kon die telling heelwat groter gewees het.”

northam-logo-300x210De Kock sê Josh Finlay (heelagter) het baie skerp vertoon, veral wanneer hy by die agterlyn ingeskakel het, en is met twee drieë beloon.

“Een daarvan was as gevolg van `n stukkie individuele briljantheid van Danie Loots, wat `n ruimte agter die verdedigers raakgesien en die pad doellyn toe met `n skoppie vir Finlay oopgemaak het.

“Loots het eweneens uitgeblink en begin weer die peil toon wat van hom `n gevaarlike aanvaller maak. Hy is insgelyks met twee drieë beloon.

“Mark Humphries (flank) en Jimmy Baloyi (agtsteman) het voorlangs uitgeblink en hul harte uitgespeel.”

De Kock sê die Rhinos sien uit na die eindstryd Saterdag teen Potties.

“Twee Limpopoklubs in die eindstryd is ook `n aanduiding dat dinge besig is om in dié streek te gebeur, en ons verwag niks minder nie as klipharde rugby Saterdag.

potgietersrusPotgietersrus teen Lonmin

♦ Renier Labuschagne, Potgietersrus se voorsitter, laat weet sy span het `n fees van nie minder nie as 11 drieë in sy wegholsege oor Lonmin gedruk.

“Dit was uit die staanspoor `n oop wedstryd, maar Potties het mettertyd sy wedstrydplan ten volle ontplooi en skouspelagtige hardlooprugby gespeel.

Phillip Fuls, die beste vooros en speler van die wedstryd het nes Hans du Plessis en Klaas Maloba (die beste agterspeler) `n tweekuns behaal, en Willem Dreyer, Deon Klein, Collins Steyn, Juan Nel en Anthony Hawken het die res van die drieë gedruk.

Jan Vorster het 16 punte bygedra deur met agt van die 11 doelskoppe te slaag.

Labuschagne sê Potties beskik tans oor heelwat diepte op die bank, en elke speler het Saterdag `n kans gekry om te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.