Hande in die hare: Creevy vir week geskors

Eben Etzebeth. (Foto: DIARMID COURREGES/AFP)

’n Onafhanklike tugkomitee het Agustin Creevy vir een week geskors nadat hy Eben Etzebeth se hare in ’n wedstryd tussen London Irish en Toulon getrek het.

Die voorval het in die 35ste minuut van die wedstryd plaasgevind nadat ’n bakleiery onder die spelers uitgebreek het.

“Die komitee het die klagte gehandhaaf en bevind dat Creevy opsetlik Etzebeth se hare getrek het. Die oortreding het ’n rooi kaart regverdig,” het Simon Thomas (tugkomitee-voorsitter) in ’n verklaring gesê.

Omdat Creevy egter erken het dat hy hom aan vuilspel skuldig gemaak het en te danke aan sy goeie dissiplinêre rekord, is hy vir slegs ’n week geskors.

Die skorsing beteken egter steeds dat hy volgende Dinsdag se Premiership-eindstryd teen Worcester sal misloop.

Die 37-jarige Argentynse haker lewer deesdae vuurwarm spel vir London Irish en talle ondersteuners voel dat hy nog goed genoeg is om internasionale rugby te speel.

Intussen verruil Etzebeth binnekort Toulon vir Durban.

“Ek is hartseer om Toulon en my spanmaats aan die einde van die seisoen te verlaat, maar persoonlike redes dwing my om dit te doen. Ek sal egter steeds my beste vir die span gee om sodoende te verseker dat sy posisie op die punteleer verbeter,” het hy in ’n verklaring gesê.

Ja, die 30-jarige slot was dalk te veel kere onbeskikbaar na ’n Fransman se smaak, maar hy bly een van die heel beste spelers op die wêreldverhoog.

Hy was onder meer vroeër saam met Siya Kolisi, Makazole Mapimpi, Damian de Allende en Lukhanyo Am in ’n wedloop om SA Rugby se speler van die jaar-toekenning gewikkel.

En al het die Springbok-kaptein uiteindelik met die louere weggestap, meen baie plaaslike rugbyondersteuners dat Etzebeth eintlik die speler was wat die titel verdien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton ·

Hulle moet maar net hom en Eben ‘n bier laat drink dan is alles oor.
Die administrateurs maak die game so mak dat dit later soos ballet sal wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.