Hane kies Toulon en Clermont se swaargewigte

Guy Noves – die hele week by sy span om hulle voor te berei (Foto: FFR)

Nou sal ons weet of die Springbokspan op die regte pad is.

Nadat die Bokke verlede Saterdag op Loftus Versfeld die Franse toerspan met 37-14 in die eerste van drie toetse geklop het, het die Hane se afrigter, Guy Noves, tien veranderinge aan sy groep wat slae gekry het aangebring vir die tweede toets op Kingspark in Durban.

Die Hane was bra planloos in die eerste toets, hulle het in die lynstane en skrums gesukkel, daar was maar min slaankrag en flair agterlangs en hul verdediging was ook maar eina teen die vlugvoetige Bokke.

Maar nou is hul kaptein en haker, Guilhem Guirado, terug asook ʼn rits spelers van Clermont en Toulon wat in die eindstryd van die Top14-reeks gespeel het.

Boonop het Noves ook die eindstryd in Parys bygewoon en het hy eers verlede Dinsdag saam met die spelers van Clermont en Toulon in Suid-Afrika aangekom en kon hy nie veel help om die span vir die Loftustoets voor te berei nie.

Dit was ook verlede jaar in Argentinië die geval. Toe het die Franse die eerste toets verloor, maar met die afrigter en grofgeskut daar het hulle die tweede toets met 27-0 beklink.

♦ Die Franse swaargewigte is nou weer nader getrek en die Hane sal gewis baie meer vrae aan die Bokke stel.

Die kollig sal veral val op die oud-Kwazulu-Natalse heelagter Scott Spedding en die nuwe senter- en skakelpaar.

Die jong senter Damian Penaud is ná sy goeie peil in Frankryk gekies. Die 20-jarige Damian volg in sy pa, Alain, se voetspore wat die Bokke in 1993 en 1995 gryshare in die nr.10-trui besorg het.

Die ervare losskakel Francois Trinh-Duc en die skrumskakel Baptiste Serin sal ook ʼn groot verbetering wees.

Voorlangs skuif die vuurvreter-agtsteman, Louis Picamoles, wat op flank uit sy diepte in die eerste toets was, terug na agtsteman en speel Kevin Gourdon flank.

Romain Taofifenua is die nuwe nr. 5-slot en Yoann Maestri skuif na nommer vier toe met die vaskopstut, Rabah Slimani, om die skrum te anker.

Die Franse span –

15 Scott Spedding, 14 Yoann Huget, 13 Damian Penaud, 12 Gaël Fickou, 11 Virimi Vakatawa, 10 Francois Trinh Duc, 9 Baptiste Serin, 8 Louis Picamoles, 7 Kevin Gourdon, 6 Yacouba Camara, 5 Romain Taofifenua, 4 Yoann Maestri, 3 Rabah Slimani, 2 Guilhem Guirado (kaptein), 1 Jefferson Poirot. Plaasvervangers: 16 Clément Maynadier, 17 Eddy Ben Arous, 18 Uini Atonio, 19 Julien le Devedec, 20 Bernard le Roux, 21 Antoine DuPont, 22 Jean-Marc Doussain, 23 Nans Ducuing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.