Hane pronk teen Wallis

(Foto: Geoff Caddick/AFP)

Een van die Franse rugbyspan se afrigtingspan se grootste aanwinste is die verdedigingsafrigter, Shaun Edwards.

Edwards, ʼn 55-jarige Wallieser wat 36 rugbyligatoetswedstryde vir Brittanje gespeel het, het die Rooi Drake se sooibrand Vrydagaand in Cardiff vererger toe die Hane hul kragmeting in vanjaar se Sesnasies-reeks met 13 – 9 gewen het.

Die Franse is op pad om skoonskip in vanjaar se reeks te maak om sodoende ook die Grand Slam te wen, want net Engeland staan aanstaande Saterdag nog in hul oorwinningspad.

Die Franse se byna onpriembare verdedigingspatroon, te danke aan Edwards, was Vrydagaand die groot verskil tussen die twee spanne.

Wallis kon nie een keer die Franse doellyn oorsteek nie en het op drie strafdoele deur die losskakel, Dan Biggar, staatgemaak.

Die flank Anthony Jelonch het Frankryk se enigste drie gedruk, met Melvyn Jaminet wat met die doelskop geslaag het en ook twee strafdoele bygedra het.

Edwards, wat Wallis se verdedigingsafrigter tussen 2008 en 2019 was toe hulle ses Sesnasies-reekse gewen het, het die Franse se verdedigingspatroon in ʼn baie hegte eenheid ontwikkel.

Waar die Franse in die verlede baie strafskoppe afgestaan is, het dit onder Edwards opgedroog, met die gevolg dat die Hane nou behoorlik pronk.

Die telling was Vrydagaand dalk klein, maar dit was tog ʼn aanskoulike wedstryd wat Wallis baie maklik kon gewen het.

Punte:

Wallis 9: Strafdoele: Dan Biggar (3)

Frankryk 13: Drie: Anthony Jelonch. Doelskop: Melvyn Jaminet. Strafdoele: Jaminet (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.