Hansen hou by ou wenresep, Cheika waag

(Logo thepintsa)

Daar is sekere dinge in rugby wat afrigters en keurders nooit moet verander nie, soos om spelers op peil te kies en die regte kombinasies in te span.

Jy kan (en moet deesdae) tegnologie gebruik en jy kan van die beste ontleders en hulpafrigters hê … maar as jy met jou spankeuse kleitrap, kan jy maar van sukses vergeet.

Dit was een van die hoekstene van Kitch Christie se sukses by die Wêreldbeker-toernooi in 1995. Hy het volle vertroue gehad in sy destydse Transvaalspelers (wat verreweg die beste span in Suid-Afrika was) en dis hoekom Francois Pienaar-hulle die Webb Ellis-trofee omhoog kon hou.

Jake White was ook ʼn groot voorstander daarvan toe hy in 2007 die Wêreldbeker in Frankryk gewen het.

Die All Black-afrigter, Steve Hansen, en sy medekeurders, Ian Foster en Grant Fox, glo ook nog daaraan. Hulle het sewe Crusaders, wat die Superrugbyreeks help wen het, beloon met insluiting vir Saterdag se toetswedstryd in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies in Sydney.

Dis hoekom die All Blacks die Wêreldbeker reeds drie keer gewen het (dit kon meer gewees het as van die vorige afrigters nie drooggemaak het nie) en hoekom hulle al jare lank die voorste span op die wêreldranglys is; en dis ook hoekom hulle die Rugbykampioenskap en Drienasies-reeks oorheers het.

Hansen het die Crusaders-senterpaar van Jack Goodhue en Ryan Crotty, en die Crusaders-voorry van Owen Franks, Codie Taylor en Joe Moody, vir die kragmeting met die Wallabies gekies.

Goodhue en Crotty was soos vinkel en koljander in die Superreeks. Hulle het mekaar aangevul en dit was dus ʼn maklike besluit. Die Crusaders-voorry was die rots in die skrums. Ook was die verstandhouding tussen Taylor (haker) en sy spanmaats Sam Whitelock (slot) en Kieran Read (agtsteman) van kardinale belang in die lynstane.

Daarenteen het die Wallabies-afrigter, Michael Cheika, gewaag toe hy die veelsydige Reece Hodge as Kurtley Beale se sentermaat gekies het. Dit is uit amperse noodweer gedoen omdat Tevita Kuridrani en Samu Kerevi beseer is, maar dit bly ʼn waagstuk om ʼn nuwe kombinasie teen die All Blacks op die proef te stel.

Origens was daar geen verrassings nie. Ja, daar was sprake dat Richie Mo’unga op losskakel teen Beauden Barrett opgeweeg sou word, maar dit was blote spekulasie. Hansen-hulle glo nie daaraan om te gaan krap waar dit nie jeuk nie. Mo’unga het baie talent, maar hy sal sy kans moet afwag.

Die spanne:

Wallabies: Israel Folau, Dane Haylett-Petty, Reece Hodge, Kurtley Beale, Marika Koroibete, Bernard Foley, Will Genia, David Pocock, Michael Hooper (kaptein), Lukhan Tui, Adam Coleman, Izack Rodda, Sekope Kepu, Tatafu Polota-Nau, Tom Robertson. Bank: Tolu Latu, Allan Alaalatoa, Taniela Tupou, Rob Simmons, Pete Samu, Nick Phipps, Matt Toomua, Jack Maddocks.

All Blacks: Ben Smith, Waisake Naholo, Jack Goodhue, Ryan Crotty, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith; Kieran Read (kaptein), Sam Cane, Liam Squire, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Bank: Nathan Harris, Karl Tu’inukuake, Tim Perry, Scott Barrett, Ardie Savea, TJ Perenara, Damian McKenzie, Anton Lienert-Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.