Hansen-hulle groet in styl teen die Rooi Drake

Die All Blacks doen die Haka vir oulaas by vanjaar se Wêreldbeker. .AP Photo/Aaron Favila.

Wallis se Rooi Drake kon laas in 1953 ’n rugbywedstryd teen Nieu-Seeland gewen het. En vandag in Japan kon mens sien waarom.

Die All Blacks was in ’n meedoënlose bui en het geen simpatie vir dapper Alun Wyn Jones-hulle in die Wêreldbeker-rugbytoernooi se bronsmedaljewedstryd gehad nie.

In die proses het Steve Hansen sy roemryke hoofstuk as All Blacks-afrigter op ’n bittersoet manier afgesluit: Ja, sy geliefde span het Wallis met 40-17 afgeransel, maar ’n bronsmedalje is glad nie die William Webb Ellis-trofee nie.

Maar wat aanvallende rugby betref, kan jy die All Blacks nie veel leer nie. En hulle was op hul driedruk-beste vandag.

Ses briljante drieë – Joe Moody se openingsdrie was ’n absolute juweel – het net Jan Publiek se siening in rooi onderstreep dat die All Blacks steeds die beste span ter wêreld is; ongeag of hulle in die finaal speel of nie.

Joe Moody druk sy briljante drie. AP Photo/Mark Baker.

Rustyd het die Nieu-Seelanders ’n gemaklike voorsprong van 28-10 geniet en in die tweede helfte het hulle hul voet swaarder op die versnelpedaal gedruk.

Op hul beurt het Wallis moedig probeer en Josh Adams het sy sewende drie van die toernooi gedruk. Maar vandag – en vir die soveelste keer die afgelope 66 jaar – was die All Blacks net te sterk.

“Ek dink vandag was een wedstryd te veel vir ’n hele paar spelers gewees – mens kon sien hulle was lekker moeg. Maar die plaasvervangers het ons weer ’n adrenalien-inspuiting gegee en ons het baie beter in die tweede helfte gespeel,” het Wallis se afrigter, Warren Gatland, gesê.

Gatland sal die Britse en Ierse Leeus vir hul Afrika-safari in 2021 aanvoer, maar sy kontrak met die Walliese rugbyspan het tot ’n einde gekom.

“Ek dink egter ons kan net vanaand verder geniet en vier wat ons alles vanjaar bereik het. Terselfdertyd wil ek ’n reusedankie aan almal in Wallis sê; ek het my tyd saam met die span baie geniet.”

Die einde van die Hansen/Read-era. (AP Photo/Christophe Ena).

Dan het die trane maar vlak vir Hansen gelê.

“Dit was ’n voorreg (om die All Blacks af te rig),” was al wat ’n emosionele Hansen kon uitkry terwyl die skare hom kliphard toegejuig het.

Hy het ’n wenrekord van amper 90% in meer as 100 toetse aan die stuur van die All Blacks gehad. Hy verdien al die lof wat hom toekom.

Puntemakers:

All Blacks: Drieë: Joe Moody, Beauden Barrett, Ben Smith (2), Ryan Crotty, Richie Mo’unga. Doelskoppe: Mo’unga (6).

Wallis: Drieë: Hallam Amos, Josh Adams. Doelskoppe: Rhys Patchell en Dan Biggar. Strafskop: Patchell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Human ·

Net een woord om die AB en hul afrigter op te som. BRILJANT !!!

Dereck Le Roux ·

Dit is baie jammer dat die All Blacks op die uitspeelfases uitgeval het maar ek dink nog hulle is die beste span in die wereld, Steve Hansen het niks om oor skaam te wees nie.

sweis ·

N puik span ,en sou hulle in die finaal wees was dit dalk n ander storie maar dit is rugby geluk volgende jaar is n nuwe jaar.

Josua Keys ·

Ek sê weer, daar gebeur teveel dinge agter toe deure waarvan ons nie weet nie en die IRB sal swyg. Dit het ‘n betalende en dobbel sport geword en dit sê alles, die bokke wen Wallis met slegs drie punte met die swakste rugby vertoning in die wereld beker reeks tot dusver maar die All Blacks vermorsel die rooi drake 40/17 ‘n week later. Ek hoop regtig ek is verkeerd maar ek sien nag vir die bokke more want ons rugby styl is pateties vergelyke Engeland se spelpatroon wat in my oë wereld klas status verdien dieselfde soos die All Black en Japan s’n . Ons het wel die spelers om te wen mits Rassie sy “gameplan” gaan verander. Die enigste rede waarom ons teen Japan gewen het is omdat hul spelers baie kleiner korter en ligter as ons spelers was en moeiliker gevind het om die voordeel lyn oor te steek, as ons hul rugby styl aangeneem het sou ons selfs die All Blacks gewen het en onoorwonne uit die reeks gestap het. Wallis het presies dieselfde rugby styl soos ons eie teen ons gebruik en daarom het ons hulle geklop gaan kyk gerus, as Wallis die bal meer van hand tot hand verwissel het was daar perde vir die bokke gaan kyk gerus na Wallis se drie teen ons. Die Faring manne het dit geweet en gehou by wat hulle goed doen “HARDLOOP RUGBY” en Wallis vermorsel en ons dink ons het ‘n kans teen Engeland?

Frans C ·

Die All Blacks ontwaak toe uit die engelse nagmerrie.Wallis aan die ander kant het moeg en afgemat gelyk met hier en daar stukkies spel wat daarop gedui het dat die span tot veel beter instaat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.