Hansen ook krities oor verdediging, skoppe

Nieu-Seeland se Steve Hansen. (AP Photo/Aaron Favila)

As Steve Hansen ’n Afrikaanse liedjie kon skryf sou die titel waarskynlik iets soos “Skop-skop sê asseblief koebaai” wees.

Die All Blacks-afrigter, wat amper 87% van sy wedstryde aan die stuur van die Nieu-Seelands span gewen het, is die jongste rugbyghoeroe wat kla oor die rugby wat in die afgelope reeks tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus opgedis is.

Dit kom nadat Stuart Barnes in sy rubriek geskryf het dat die All Blacks asseblief wêreldrugby van die Springbokke se konserwatiewe benadering moet kom red, terwyl Ian Foster (huidige Kiwi-breier) gesê het dat die Bok-wedstryde hom aan die slaap sus.

Hansen was ook krities oor Jacques Nienaber en Warren Gatland.

“Jy sit met twee swaar voorspelerpakke en twee afrigters wat nie genoeg selfvertroue het om te sien wat sal gebeur as hulle die bal ’n bietjie rondgooi nie; daarom is dit net heeltyd ’n armdrukkery,” het Hansen gesê.

Volgens die Nieu-Seelander het die spanne alles in hul vermoë gedoen om hul verdedigingslinies gereed te kry sodat hulle weer met hul stormramsessies kan begin.

“Dit is nie ’n wedstryd waarna enigiemand sal wil kyk nie. Ja, ons soek ’n goeie fisieke wedstryd, dit is immers waaroor die spel gaan – spoed, vaardighede en om balbesit doeltreffend te gebruik. Het ons dit in die Leeusreeks gesien? Natuurlik nie.”

Tog is Handré Pollard nie deur kritiek gepla nie.

Handré Pollard sê die Springbokke steur hulle nie veel aan die kritiek nie. Foto: GB Jordaan.

“Ons gaan aanhou om so te speel en mense is geregtig daarop om kritiek te lewer. As ’n span glo ons in hierdie benadering en dit is al wat saak maak,” het die Springbok-losskakel gesê.

Nick Mallett, die voormalige Springbok-afrigter, sien ook uit na die komende wedstryd tussen die Suid-Afrikaners en die Nieu-Seelanders in Townsville.

“Nieu-Seeland is die beste hardlooprugbyspan ter wêreld, ons is weer die beste om spelers plat te duik wat met die bal hardloop. Ons vastefasetspel is beter, ons rolmaalbewegings is sterker en ons skoppe is meer doeltreffend; dit beloof om ’n titaniese tweestryd te wees.”

Hansen meen egter dat die Springbokke en Leeus gesorg het dat die All Blacks se gewildheid toegeneem het.

“Dit gaan glad oor die All Blacks wat rugby moet red nie; alle betrokkenes sal moet besef dat iets gedoen moet word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Niklaas

Al wat eintlik belangrik is , is wen rugby . En dit verskil effens van dom rugby. Hardloop rugby mag opwindend wees , maar mens moet eers besin oor die spel benadering teen jou teenstanders voordat die span op die veld draf. Gedugte verdediging van jou teenstanders kan jou desperaat laat speel , en foute ontstaan gevolglik dan en dit beteken punte tèèn jou. Wedstryd dan verloor. En niemand is mal oor verloor rugby nie.

Riaan

Dit sou dalk veiliger gewees het om te wag tot NA die Bokke teen die All Blacks gespeel het. Wat gaan jou argument wees as ons julle wen ?

N

Die Bokke is tans die wereld beker, B&I leeus reeks, Championship reeks wenners en ons het die vorige wereld speler van die jaar. As ek dit nie mis het nie het Engeland vir NZ verneder in die wereldbeker semi finaal, en daarna het ons vir Engeland verneder. Swak sportmanskap. SA and NZ rugby het groot respek vir mekaar. Wys hoe kleinlik Hansen eintlik is. Dalk jaloesie nadat hulle nie die vorige B&I leeus toer kon wen nie