Hansen reageer op Jones se spioenasie-aantygings

Nieu-Seeland se Steve Hansen. (AP Photo/Aaron Favila)

Die twee spanne wat baie kenners voel eintlik in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan moes gewees het, het ’n vroeë ontmoeting wanneer hulle mekaar in Saterdag se eerste halfeindstryd in Yokohama pak.

Die All Blacks en die Engelse Rose kan vir die grootste kragmeting van die toernooi sorg en albei afrigters het al ’n paar salvo’s in die opbou tot die groot kragmeting afgevuur.

Steve Hansen – Nieu-Seeland se breier – het teen baie se verwagting in vir Scott Barrett op flank gekies. Hy sal die gewilde Sam Cane in die no. 6-trui vervang.

Dit is duidelik met dié besluit dat die Kiwi’s met hul voorspelers net so ’n harde hou wil plant as wat die Engelse swaargewigte slaan.

Maar as die oorlog óp die veld nie genoeg sal wees nie, is  ’n Koue Oorlog in die kleine ook besig om te woed lángs die speelveld.

Engeland se Eddie Jones het vroeër die week ’n aantyging gemaak dat daar op sy span gespioeneer is tydens ’n oefensessie.

“Daar was beslis iemand in die woonstelblok langs die veld besig om ons oefensessie vas te vang,” het Jones op ’n perskonferensie gesê.

Hoewel hy bygevoeg het dat dit moontlik ’n Japanse rugby-ondersteuner is, sou dit hom ook nie veel geskeel het indien dit ’n Nieu-Seelandse “spioen” was nie.

“Ons het van die begin af geweet dat ons afgeneem word, maar dit het ons nie in die minste gepla nie.”

Op sy beurt het Hansen sy Britse eweknie se aantygings afgelag.

Eddie Jones. (AP Photo/Christophe Ena)

Jones het nooit die All Blacks direk van spioenasie beskuldig nie en Hansen het geskerts dat dit moontlik die einste kameraman was wat die Kiwi’s se oefensessie afgeneem het.

“In die opbou tot ’n groot wedstryd is daar niks beter as om ’n bietjie lokaas uit te gooi om ander se aandag af te trek nie. Die media vreet dit immers soos soetkoek op.”

  • Die All Blacks/Engeland-halfeindstryd word Saterdag om 10:00 (SA tyd) gespeel. Die All Blacks het 15 van die laaste 16 toetse tussen dié twee rugbylande gewen.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Sevu Reece (regtervleuel), Jack Goodhue (buitesenter), Anton Lienert-Brown (binnesenter), George Bridge (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Kieran Read (kaptein en agtsteman), Ardie Savea (flank), Scott Barrett (flank), Sam Whitelock (slot), Brodie Retallick (slot), Nepo Laulala (stut), Codie Taylor (haker), Joe Moody (stut). Plaasvervangers: Dane Coles, Ofa Tuungafasi, Angus Ta’avao, Patrick Tuipulotu, Sam Cane, TJ Perenara, Sonny Bill Williams, Jordie Barrett.

Engeland: Elliot Daly (heelagter), Anthony Watson (regtervleuel), Manu Tuilagi (buitesenter), Owen Farrell (kaptein en binnesenter), Jonny May (linkervleuel), George Ford (losskakel), Ben Youngs (skrumskakel), Billy Vunipola (agtsteman), Sam Underhill (flank), Tom Curry (flank), Courtney Lawes (slot), Maro Itoje (slot), Kyle Sinckler (stut), Jamie George (haker), Mako Vunipola (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Regs! ·

Die All Blacks gaan die een ook vat, en volgende week se wedstryd ook!

Willco ·

All Blacks se game tempo gaan te vining wees vir die Ingelse! All Blacks vat weer die beker!

John ·

Ek stem saam Derick. Hoop die beker bly in die Suidelike Halfrond.

chris ·

ag Werner jy maak seker grappies, sit my geld op die Engelse en ons ou bokkies vir volgende week

Frans C ·

As en dit is ‘n groot as-as die Engelse in die laaste 20 minute nog in die spel is,het hul ‘n kans.Tans wil vir my lyk of daar dalk-as alles goed gaan-‘n herhaling van die 1995 eindstryd kan wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.