Hansen se baie veranderinge op Wêreldbeker gemik

Sonny Bill Williams – terug in die beginspan. (Foto: Facebook)

Daar moet nie te veel gelees word in die ses veranderinge en ʼn posisionele skuif wat die All Blacks-afrigter Steve Hansen aangebring het aan die span wat teen die Springbokke verloor het nie.

Soos Rassie Erasmus, is Hansen besig om kombinasies en spelers teen mekaar op te weeg met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi en waar nodig, bloot  ʼn ruskans te gee.

Behalwe die kaptein Kieran Read wat nie saam na Buenos Aires gereis het vir Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen Argentinië nie, kry die vaskopstut Owen Franks ʼn ruskans.  Ofa Tu’ungafasi begin in sy plek en Angus Ta’avao, sonder enige toetservaring, is duidelik ook op die radar en sit op die bank.

Die beseerde flank Liam Squire word deur Shannon Frizell vervang, wat in sy eerste twee toetse uitgeblink het. Read se plek op agsteman word effens verrassend deur Luke Whitelock ingeneem met sy slot-broer Sam wat in Read se plek as kaptein sal waarneem.

Die skrumskakel TJ Perenara is in sy 50ste toets in die opdrafspan en die nommer een-skrumskakel Aaron Smith begin op die bank.

Op heelagter kry Ben Smith weer speelkans in sy beste posisie. Hy vervang Jordie Barrett wat nie in die wedstryd-23-tal is nie en die sterk Waisake Naholo keer op regtervleuel terug  in Ben Smith se plek.

Die insluiting van Sonny Bill Williams, wat fiks verklaar is en in sy tweede begintoets van die jaar sal speel, is interessant met die oorvloed goeie senters wat die All Blacks het.

Williams sal ʼn week ná die All Blacks se laaste wedstryd op hul jaareind-toer, teen Italië, tot die bokskryt terugkeer.

Volgens die Nieu-Seelandse web stuff.co.nz het Hansen reeds vroeër die toetse teen Argentinië en die Springbokke geteiken as voorbereiding vir die uitkloprondes in die Wêreldbeker-toernooi, waar daar (benewens die afdelingsrondes) ʼn kwarteind-, halfeind- en eindstryd gespeel moet word as alles volgens plan verloop.

Die span ‒

Ben Smith, Waisake Naholo, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, TJ Perenara, Luke Whitelock, Sam Cane, Shannon Frizell, Scott Barrett, Sam Whitelock (kaptein), Ofa Tu’ungafasi, Codie Taylor, Karl Tu’inukuafe. Bank: Nathan Harris, Tim Perry, Angus Ta’avao, Patrick Tuipulotu, Ardie Savea, Aaron Smith, Richie Mo’unga, Anton Lienert-Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.