Hansen se grootste teleurstelling as All Blacks-breier

Steve Hansen. (Foto: Natacha Pisarenko/AP)

Met ’n wenrekord van byna 87% ná 107 toetse aan die stuur van die All Blacks sou ʼn mens dink dat Steve Hansen nie te veel slapelose nagte oor die vertoning van sy Nieu-Seelanders gehad het nie.

Tog het die 60-jarige Hansen in ’n onderhoud met Wales Online erken dat daar een of twee teleurstellings in sy roemryke loopbaan was.

“Daar was inderdaad ’n paar dinge wat ek anders sou gedoen het. Dit sorg beslis vir ’n bietjie nabetragting, maar daar is niks wat ek nou daaraan kan doen nie,” het Hansen gesê.

Een van die bittermin vetkolle op ’n andersins vleklose Kiwi-rugbygetuigskrif is toe die magtige All Blacks gelykop teen die Britse en Ierse Leeus in 2017 gespeel het.

Nieu-Seeland het die eerste wedstryd in die reeks met 30 – 15 gewen, net om die volgende toets in Wellington met 21 – 24 te verloor. Die derde en beslissende toets op Edenpark was gelykop.

Hansen broei steeds oor die feit dat die All Blacks die reeks kon gewen het, as dit nie vir Sonny Bill Williams se rooikaart in die tweede toets en ’n omstrede strafskopbeslissing deur die Franse skeidsregter Romain Poite in die laaste toets was nie.

“Die laaste wedstryd in daardie reeks was ongelooflik frustrerend, maar die ding wat die meeste by my spook, is hoe swak ek my werk gedoen het.

“As ek nou so terugdink is daar beslis ’n paar besluite wat ek nie moes gemaak het nie.”

Nóg ’n groot kopseer vir Hansen is die afgelope Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan. Die All Blacks was in die wedloop om die eerste span in die geskiedenis te word om die Webb Ellis-trofee in drie agtereenvolgende probeerlsae te wen, maar hulle wegholtrein is in die halfeindstryd deur Engeland ontspoor.

Hansen het onder meer gewaag deur vir Scott Barrett op flank te kies, terwyl Engeland ook hul beste wedstryd van die toernooi gespeel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

Ag ou Stevie, wat maak jou nou so seker dat jou All Black spannetjie die BOKKE sou wen as julle in die Wereldbeker finaal sou speel in Japan ?? Ek glo die Bokke sou ENIGE span op die dag geklop het.

Chris ·

Ek verlustig my gewoonlik nie in ‘n ander persoon se smart of teleurstelling nie. Ek het dit die afgelope jaar of wat twee keer gedoen. Die eerste toe die Bokke die All Blacks op tuisveld geklop.
Die dag toe Engeland die All Blacks tydens die wêreldbeker geklop het. Wat my die meeste binnepret in albei gevalle gegee het was die kaptein Kieran Reed se gesigsuitdrukking van verslaenheid en teleurstelling. Met die onbeholpe/onbevoegde “afrigters” wat ons gehad het, is die bordjies verhang. Hoe baie moes ons hoor hoe die All Blacks ons span gekoggel het. Ek hoop dit is nou klaar.

Kokkie ·

Teen watter span het die Bokke in verlede jaar se wêreldbekerkompetisie VERLOOR ?

Vonkprop ·

Watter span het die Wêreldbeker GEWEN en watter span het DERDE geëindig??? As jy ‘n geveg verloor het beteken dit nie jy het die oorlog verloor nie. Die All Blacks was swakker as die Bokke verlede jaar, PUNT.

koos10 ·

Aai Steve, net soos jou span gesuffer het met daai simpel franse ref, net so het SA gely onder sy fluitjie tydens die vorige wêreld beker. So ons moes dit maar op die ken vat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.