Hardlooprugby, skrumstryd wag in Bloemfontein

Vrystaat logo ronelVir die Goue Leeus is Donderdagaand se Curriebekerwedstryd teen die Vrystaat Cheetahs in Bloemfontein  een wat hulle móét wen met die oog op die uitspeelwedstryde; vir die onoorwonne Cheetahs is dit een wat hulle graag sou wou wen om momentum te behou.

Dít, benewens die lekker rugby wat na verwagting deur die twee spanne opgedis sal word met afrigters wat albei in  hardloop as ʼn aanvalswapen glo, is die vernaamste kenmerk van die kragmeting.

Die Leeus, tans vyfde op die puntelys maar met ʼn wedstryd minder gespeel as die Sharks en die Blou Bulle, sal met ʼn oorwinning na die tweede plek toe opskuif. Hulle het dan ʼn tuiswedstryd teen die OP Kings en die Sharks in Durban op hul bepalingslys oor.

Die Pumas (weg) en Griekwas in Bloemfontein is die Vrystaat se laaste twee uitdagings.

Dit is moeilik om te voorspel wie uiteindelik die vier halfeind-spanne sal wees. Soos Johan Ackermann, afrigter van die Leeus, vroeër die week gesê het: dit is nou uitkloprugby waar jy móét wen.

Dit geld ook die Bulle en die Sharks, al is laasgenoemde tans tweede op die puntelys.

♦  Wat die wedstryd self betref, sal dit interessant wees om te sien of die Vrystaat hulle kragvertoning in die skrums kan voortsit waar hulle verlede die Sharks verneder en geknak het. Tom Botha, Torsten van jaarsveld en Ox Nché is hulle voorry-ysters.

Hulle kom te staan teen ʼn span wat self baie vertroue én ʼn trots in sy skrums het. Met Ruan Dreyer en Robbie Coetzee ook weer in die tuig, albei nou reeds met wedstrydtyd na hulle terugkeer, en die sterk loskop Dylan Smith wat jonk, reeds ervare en goed in die skrums en in die los is, wag ʼn skrumstryd soos in die ou dae.

Darem maar jammer van elke bal wat klaarblyklik skeef ingegooi mag word …

Dit is twee agterlyne wat graag wil en kán hardloop, met vaart en vernuf aan albei kante, en dis moeilik om ʼn wenner te voorspel.

Miskien kan die Leeus se goeie skakeling tussen voor- en agterspelers die deurslag gee teen ʼn span wat minder ontwrig is met die afstaan van spelers aan die Springbokspan. Dis egter nie iets waarop jy moet gaan staan en wed nie.

Die spanne –

Vrystaat Cheetahs
15 Clayton Blommetjies, 14 Rayno Benjamin, 13 Nico Lee, 12 William Small-Smith, 11 Raymond Rhule, 10 Niel Marais, 9 Shaun Venter, 8 Henco Venter, 7 Uzair Cassiem, 6 Paul Schoeman, 5 Reniel Hugo, 4 Justin Basson, 3 Tom Botha, 2 Torsten van Jaarsveld (kapt.), 1 Ox Nché. Bank: 16 Jacques du Toit, 17 Charles Marais, 18 Armandt Koster, 19 Tienie Burger, 20 Niell Jordaan, 21 Tian Meyer, 22 Fred Zeilinga.

Goue Leeus
15 Andries Coetzee, 14 Selom Gavor, 13 Jacques Nel, 12 Rohan Janse van Rensburg, 11 Anthony Volmink, 10 Jaco van der Walt, 9 Ross Cronjé (kapt.), 8 Fabian Booysen, 7 Cyle Brink, 6 Kwagga Smith, 5 Andries Ferreira, 4 JP du Preez, 3 Ruan Dreyer, 2 Robbie Coetzee, 1 Dylan Smith. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Pieter Scholtz, 18 Martin Muller, 19 Ruan Ackermann, 20 Dillon Smit, 21 Ashlon Davids, 22 Howard Mnisi.

Afskop: (19:00)

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.