Harlequins tussen die duiwel en diep blou see

harlequinsVir Harlequins is dit `n kwessie van tussen die duiwel en die diep blou see wanneer hy Saterdag in die laaste groepronde teen Pretoria Polisie in Groep A1 van die Noorderbonde se Assupolreeks te staan kom.

Verlede Saterdag het Rustenburg Impala hom 104-13 in die reeks geklop in `n poging om die grootste moontlike batige puntesaldo op die boonste sport van die punteleer op te bou.

Om Impala (+150) verby te steek, moet Polisie (+53) Quins met 98 punte klop – en daar was die afgelope twee jaar bitter min tussen Polisie en Impala te kies.

Quins is egter `n klub met `n trotse geskiedenis en Polisie kan hom maar klaarmaak dit hy dit nie op `n skinkbord sal kry nie.

♦ Wat die derde spanne in dié groep betref, is daar `n driehoekstryd tussen Dragons (+28), Polisie (+18) en die Universiteit van Johannesburg (+10) wat elk 11 ligapunte het.

Dragons en UJ meet kragte en Polisie sal nes sy eerste span daarop aangewese wees om Quins met die grootste moontlike batige punteverskil te klop.

♦ By die o.21- en die o.20-spanne is die kragmetings tussen Dragons en UJ op eersgenoemde se tuisveld deurslaggewend.

In die o.21-afdeling is Dragons (15) `n ligapunt voor UJ (14), en in die o.20-afdeling is UJ (15) drie punte voor Dragons (12).

Quins (10) kan nie buite rekening gelaat word nie en kan die afdeling wen as hy Polisie ver genoeg klop.

centurion-logoGroep A2

Die Tukkies sal in hul kragmetings teen Centurion op laasgenoemde se tuisveld daarna streef om vier uit die vyf afdelings in dié groep te buit, terwyl Centurion drie daarvan in die visier het.

♦ Albei eerste spanne het dusver nege liga punte verdien, maar die Tukkies (Fezelas) loop op grond van `n heelwat beter punteverskil voor.

Die twee spanne het verlede jaar in `n uiters spannende reekseindstryd kragte gemeet en Centurion het reg teen die einde die slag gewen.

Saterdag se wedstryd beloof weer eens baie opwindend te verloop.

♦ As Centurion hier wil wen, moet hy `n bonuspuntsege behaal en terselfdertyd keer dat die studente ook `n bonuspunt kry – anders sal hy met oor die 126 punte teen die voorloper moet wen!

♦ `n Selfs groter uitdaging wag op Centurion se derde span. Hy moet met `n bonuspunt wen, keer dat die Tukkies `n bonuspunt kry, én met 60 punte wen.

♦ In die o.21-afdeling is die Naka Bulle (wat hul bepalings voltooi het) op grond van punteverskil voor en `n blote oorwinning sal die Tukkies bo an die punteleer plaas.

Groep B

Drie halfeindstryde in Groep B word Saterdag in Polokwane en Pretoria afgehandel.

Pietersburg Noordelikes speel tuis teen Lonmin. Die klub se tweede span speel ook tuis teen Ferro’s II; en in Pretoria speel die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) teen Ferro’s in die o.21-halfeindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.