Hart, nie grootte nie, is wat tel

Cheslin Kolbe

Cheslin Kolbe

`n Mens krap nie waar dit nie jeuk op `n rugbyveld nie.

Dis hoekom  ek bly is dat die Stormers se afrigter Allister Coetzee ontken dat die belowende heelagter Cheslin Kolbe skrumskakel toe geskuif sal word.

Kolbe, word daar in sekere kringe gesê, is te klein. Klein se voet, want hoe groot  is Dan Carter, Jonny Wilkinson, Andrew Mehrtens en Matt Giteau?  As jy die nodige vaardighede het, as jou hart so groot soos `n leeu is, as jou wedstrydtemparement reg is, hoekom jou uit posisie speel?

Wat van die kleinste Springbok ooit, Tommy Gentles ( 1,60 m en 62 kg). Gentles het  in 1955 en 1956 in ses toetse, teen die Britse Leeus en All Blacks gespeel; hy het `n nr-4-skoen gedra en ook sy geluk gaan beproef in die wilde dae van rugbyliga in Engeland, waar hy `n jaar of twee vir Wigan gespeel het. Te klein?

Wat van Naas, Botha, Pat Lambie, Joel Stransky, Gio Aplon en Juan de Jongh? Nie een is veel groter as Kolbe nie.

`n Skrumskakel word nie agter elke bos uitgekrap nie. Dis een van daardie spesialiteitsposies waar die vaardighede nie oornag (of ooit) aangeleer kan word nie.  Jy moet die spel reg kan lees, jy moet vinnig en baie rats wees, jy moet die bal (baie, baie ordentlik) na albei kante toe kan uitgee, jy moet die bal op die spreekwoordelike tiekie kan plaas, jy moet soos `n losvoorspeler kan verdedig en jou verstandhouding met jou agtsteman agter `n skrum kan nie vinnig aangeleer word nie.

As ek vinnig terugdink, kan ek aan drie gevalle dink waar ervare afrigters baie groot blapse begaan het deur veelsydige spelers (nogal in toetse) skrumskakel toe te skuif. Die Wallaby-afrigter John Connolly het Giteau (losskakel, senter en heelagter) skrumskakel toe geskuif en `n dure prys betaal.

Nick Mallett (toe hy Italië nog afgerig het) het die flank Mauro Bergamasco in die nr.9-trui laat speel  en hom noodgedwonge met `n rooi gesig in die tweede helfte vervang.

Uit `n Bok-oogpunt was Gerrie Sonnekus se keuse in die derde toets in 1974 in Port Elizabeth teen  Britse Leeus een van die grootste blapse nóg.

Sonnekus, `n baie woeilge en vaardige agsteman (waar hy in 1984 in die twee toetse teen Engeland uitgeblink  het) het wel skrumskakel vir die Vrystaat in ’n toerwedstryd teen die Leeus gespeel, maar op toetsvlak? Eina!

Roy McCallum (Westelike Provinsie) wat in die eerste toets gespeel het, is in die tweede toets deur Paul Bayvel (Transvaal) vervang, maar McCallum is vir die derde toets herroep. McCallum het egter `n hand/vingerbesering opgedoen en is aan die vooraand van die toets onttrek.

Die Bok-bestuur het drie skrumkakels oorweeg: Gert Schutte (Griekwas ) wat die aangewese man moes wees,  Barry Wolmarans (Boland) en Sonnekus.

En so wrintiewaar gee prof. Johan Claassen-hulle vir die versoolde Sonnekus die jawoord ná  `n bisarre “oefening”.

Die Bokke het in die  Marine-hotel gebly en die tafels en stoele is eenkant toe geskuif sodat die Bokke (in gewone kleredrag en kaalvoet) hulle bewegings in stadige aksie kon uitvoer.

Die drie skrumskakels moes die bal (in stadige aksie) weerskante na die losskakel, Jackie Snyman, (wat Gerald Bosch van Transvaal) vervang het, uitgee.

Claassen (Bok-afrigter) was tevrede met die bietjie wat hy gesien het en die span is ná `n  uur aangekondig, met Sonnekus op skrumskakel: Die telling: 26-9 in die Leeus se guns.

Nodeloos om te se, Bayvel en Gerald  Bosch is vir die vierde toets (13-elk) herroep, maar die skade was gedaan – en Gert Schutte het skandelik nooit sy Bokbaadjie gekry nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae