Hartseer storie van klompie uit SA in VAE-rugby

DuRandt Gerber – hartseerstorie. (Foto: Twitter)

Dis ʼn hartseer storie dié van ʼn handjievol Suid-Afrikaners wat toetsrugby vir die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) speel.

Die onttrekking van die VAE aan Afdeling 1 van die Asiatiese Rugbykampioenskap, beteken dat die onlangse vriendskaplike wedstryd teen Gibraltar, wat hulle met 28-15 gewen het, waarskynlik hul enigste smakie van toetsrugby vanjaar sal wees.

Luidens berigte het die VAE klaarblyklik nie die geld om vir die span se deelname aan die gewestelike kampioenskap te betaal nie.

Seker die teleurgesteldste van almal, is DuRandt Gerber, wat op sy dag Curriebekerrugby vir Griekwas gespeel het, en op 36 sy buiging vir die VAE gemaak het. Hy het ook die span teen Gibraltar aangevoer.

Hy het voorheen in drie wedstryde vir Italië A gespeel, en is in dié land se oefengroep met die oog op die Wêreldbekertoernooi van 2011 ingesluit. Hy het egter nie die paal gehaal nie.

Ander Suid-Afrikaners in die VAE-span teen Gibraltar was Gio Fourie (haker), Jaen Botes (agsteman), Sean Stevens (flank) en Thinus Steyn (heelagter).

Fourie het Curriebekerrugby vir die eertydse Magtige Olifante (Oostelike Provinsie) gespeel, en Stevens Gemeenskapsbekerrugby vir Bloemfontein Polisie.Botes is oorspronklik van Pretoria en Steyn van Port Elizabeth.

Gerber, Fourie, Botes en Steyn het elk ʼn drie teen Gibraltar gedruk.
Rugby in die Emirate het die afgelope klompie jare sterk gegroei – met heelwat insette uit Suid-Afrika – en die onttrekking aan die kampioenskap is ʼn groot terugslag vir die spel daar.

Gesien die groot somme geld wat die Emirate se lugdiens wêreldwyd aan rugbyborgskappe bestee, val dit nogal vreemd op dat hy nie ook ʼn hand uitsteek om plaaslike rugby in die VAE uit sy penarie te red nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.