Hawies kry toe Cheetah-sege vóór Kersfees

Die Cheetahs het gisteraand kliphard verdedig om hul eerste sege weg van die huis in dié weergawe van die Guinness Pro14 te behaal. Foto: Twitter.

Die Cheetahs se William Small-Smith het vóór gisteraand se Guinness Pro14-wedstryd teen die Ospreys gesê dat die Vrystaters weer wil voel soos in die dae toe hulle onstuitbaar, vroeër in die seisoen, op Bloemfontein was.

Sedert hul heldedade in Suid-Afrika het Hawies Fourie se troepe nogal in Europa gesukkel en Small-Smith het basies vir ’n sege in Wallis as Kersgeskenk gevra.

Maar die was eerder die mannemoed van die Cheetah-span wat vir daardie geskenk gesorg het, as Kersvader wat homself deur die Vrystaat-skoorsteen moes wikkel.

Small-Smith het die openingsdrie van die wedstryd gedruk, tog was die besoekers steeds met 8-10 agter toe die fluitjie vir rustyd geblaas het.

Hulle het egter die enigste drie van die tweede helfte gedruk toe Wilmar Arnoldi ná ’n rolmaalbeweging oorgeval het.

Hoewel ’n strafskop net voor die einde hulle voorsprong na vyf punte gerek het, moes hulle steeds verbete verdedig het.

Die Cheetahs het die wa deur die drif getrek en uiteindelik met 18-13 ’n spogoorwinning weg van die huis behaal.

Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Wilmar Arnoldi en William Small-Smith. Doelskop: Tian Schoeman. Strafskoppe: Ruan Pienaar en Schoeman.

Ospreys: Drie: Ma’afu Fia. Doelskop: Luke Price. Strafskoppe: Price (2).

  • In Galway het die Kings met 12-24 die onderspit teen Connacht gedelf.

Die Kings het goed baklei en drieë deur Erich Cronje en Scott van Breda het gewys waartoe hulle in staat is, maar die tuisspan het vroeg in die tweede helfte reeds hul bonuspuntdrie gedruk.

Tog is die Oos-Kapenaars glad nie meer die kanonvoerspan van ouds nie en op ’n stadium moes Connacht 102 duikslae teenoor die Kings se 38 uitgevoer het.

Puntemakers:

Connacht: Drieë: Bundee Aki, Finlay Bealham, John Porch (2). Doelskoppe: Conor Fitgerald (2).

Kings: Drieë: Erich Cronje en Scott van Breda. Doelskop: Van Breda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Die sege is oor ‘n span wat tot dusver net een van hul 7 wedstryde kon wen en tans 6de in hul afdeling is.Die wêreldbeker is verby en spanne in alle kompetisies keer stadig maar seker terug na volle sterkte.

Isak ·

Ag Frans. Bly stil asb. Die cheethas het nou spelers verloor. En het baie beserings voorlangs. Geen span is swak nie. Enige span kan enige span op die dag wen. Weet nie wie jou span is nie. Maar julle gaan groot verrassings van die cheethas of kry. Die spelers en Hawie moet mekaar net vind dan sal jy sien.

Kiewiet ·

Ek stem 100% saam met jou Isak. Die Cheethas gaan nog baie spanne klop.

PJN ·

Ja die Cheetahs stel teleur na ‘n goeie afskop in die Pro 14 na die Curriebekker. Dan moet die Kings ook terugbring in die curriebekker kompetisie. Hulle sal baie spanne die skrik op die lyf jaag. Ek is ‘n Leeu ondersteuner en gee die ander spanne die krediet wat hulle toekom. Die Bokke is mos die wêreld kampioene!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.