Hawies wil hê sy Cheetahs moet skerp bly

Die Cheetahs se Hawies Fourie. Foto: ANA.

Om so gereed moontlik vir enige situasie te wees is waarskynlik die Cheetahs se motto onder Hawies Fourie.

Die Covid-19-pandemie het gesorg dat die Guinness Pro14- en Superrugby-kompetisies skielik afgelas word en daar is sprake dat SA Rugby ’n plaaslike toernooi van stapel sal stuur om dié reekse te vervang.

Maar maak nie saak in watter hoedanigheid die rugbyseisoen weer eendag hervat sal word nie, Fourie en sy troepe sal gereed wees.

“Daar heers beslis onsekerheid oor die kompetisies, maar dit keer ons nie om hard te oefen nie,” het hy gesê.

Volgens die Vrystaatse afrigter is dit belangrik om nou aandag aan die spelers se fiksheidsvlakke te skenk en elke speler het ’n individuele oefenprogram ontvang.

“Almal se omstandighede is uniek – party is op die plaas en ander in woonstelblokke – maar dit is lekker om te sien hoe innoverend hulle hul oefeninge benader.”

Fourie sê dat sy spelers gereeld video’s van hul oefensessies stuur om mekaar te motiveer, maar dit help ook die afrigters om presies te sien waar elke speler fiksheidsgewys is. Sodoende kan hulle die span se fiksheidsteikens bepaal wanneer die seisoen weer hervat word.

Wanneer die regering se maatreëls rakende die staat van inperking effens versag word, moet die afrigterskorps gereed wees om enige scenario te takel.

“As ons nie as ’n volledige span saam mag oefen nie, sal ons in kleiner groepies verdeel word, maar dit sal ongetwyfeld ’n bietjie kreatiewe denke verg. Ons sal egter die beste van enige scenario maak en die spelers se gesondheid is die belangrikste.”

Toe die Pro14-seisoen afgelas is, was die Cheetahs hard op pad na ’n plek in die toernooi se uitspeelrondes. Hulle het ses wedstryde op hul tuisveld in Bloemfontein oorgehad en was net twee punte agter hul grootste teenstanders, die Glasgow Warriors.

“Ons was in die Verenigde Koninkryk toe daar vir die eerste keer maatreëls ingestel is om die verspreiding van die virus te keer. ’n Maand later is alle rugby vir eers afgelas, dus het dinge baie vinnig verander,” het Fourie gesê.

“Die feit dat ses tuiswedstryde op ons gewag het terwyl ons net twee punte agter Glasgow was, het die nuus taamlik moeilik gemaak om te hanteer. Maar as span ondersteun ons die maatreëls wat ingestel is ten volle en ons sal die regering en die onderskeie rugbybeheerliggame beslis met die uitvoer daarvan help.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.