Hedendaagse rugbyspanne kla met brood onder die arm

Argieffoto (Foto: The Beijinger)

Een van die beweegredes waarom Suid-Afrika nie meer deel van die Rugbykampioenskap of Superreeks wil wees nie, is oor die groot afstande wat jaarliks (in besigheidsklas) tussen Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland en Argentinië afgelê moet word.

Ook dat die Suid-Afrikaanse spanne in die Superreeks aan die agterspeen suig omdat hulle jaarliks vir vyf weke deur Australië en Nieu-Seeland moet toer en vier wedstryde daar speel.

Daarteenoor toer die Nieu-Seelandse en Australiese spanne net drie weke deur Suid-Afrika waar hulle slegs twee wedstryde teen die land se Superrugbyspanne speel.

Die Australiërs het nou voorgestel dat die Rugbykampioenskap later vanjaar in een stad, na alle waarskynlik Perth, moet plaasvind as rugby hervat word ná die Covid-19-pandemie.

Die Rugbykampioenskap sal dan, soortgelyk aan ʼn Wêreldbekertoernooi, binne ʼn paar weke afgehandel word.

Die Suid-Afrikaanse rugbybase, wat die gans is wat die goue eiers lê, is maar louwarm daaroor en dink eerder daaraan om na die Noordelike Halfrond te skuif, hoewel hulle nog tjoepstil daaroor is.

As dit sou gebeur, sal die vier Superrugbyspanne (Bulls, Lions, Stormers en Sharks) saam met die Cheetahs en Southern Kings aan die Pro14-reeks deelneem en die Springbokke deel van ʼn vergrote Sesnasiesreeks word.

Maar dit sou beteken dat rugby voortaan in die somer in Suid-Afrika gespeel sal word. Ook, sal daar genoeg mededinging in die Pro14-reeks sonder die Engelse en Franse spanne wees?

Ja, daar is ʼn geelwortel om ook in die Europese Kampioenskap en Bekerreeks te speel, maar gaan die Engelse en Franse daarvoor te vinde wees?

* Jare gelede, toe toere nog so elke agt/tien jaar plaasgevind het, was spanne maande lank van die huis af.

Die Springbokspan van 1937 wat deur Australië en Nie-Seeland getoer het, se eerste wedstryd in Australië is op 31 Mei in Perth gespeel en die laaste wedstryd op 29 September in Auckland, Nieu-Seeland.

Onthou ook dat die span weke lank met ʼn passasierskip gereis het en dat hulle ʼn hele paar dae voor die eerste wedstryd voorberei het.

Die Bok-toerspan wat in 1960-’61 deur die Britse Eilande en Frankryk getoer het, het altesame 34 wedstryde gespeel (waarvan net een verloor is en net een toets, teen Frankryk, gelykop geëindig het nadat ʼn Grand Slam in Brittanje behaal is.

Die Bokke se toer het op 22 Oktober 1960 afgeskop en die laaste wedstryd was op 18 Februarie 1961.

Maar niks kan kers vashou by die Nieu-Seelandse toerspan van 1888-’89 wat 107 wedstryde op sy toer van 14 maande na die Britse Eilande, Australië en Nieu-Seeland gespeel het nie.

Die span het 78 wedstryde gewen, 23 verloor en ses keer gelykop gespeel.

Hulle het in 74 wedstryde in Engeland, slegs een in Skotland en drie keer in Ierland gespeel.

Dit het beteken dat hulle gemiddeld elke 2,4de dag ʼn wedstryd gespeel het.

Volgens ou koerantberigte was die span só weens beserings uitgedun dat hulle soms gesukkel het om ʼn volle span op die veld te stuur.

Maak kla? Aikôna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Ek sou ook nie meer teen SA spanne wou meeding soos dit nou gaan nie.New Zealand en Australie het nie vir SA nodig nie.Die eens magtige springbok is klaar en hulle verloor niks om nie teen SA te speel nie.Laat SA maar in die europese liga speel en droom dat hulle die beste is.Die bokke is nou net goed genoeg vir die middel ligas en niks meer nie.