Die gebrek aan kombinasies is seker deels vir van die tekortkominge te blameer, maar daar was tog ook heelwat pluspunte in die Lions se vertoning Saterdag teen die SupaBarbarians by Wits.
Die kombinasies het uiteraard by albei spanne gelol. Die Lions het nie met ʼn gevestigde span gespeel nie, en die Baabaas het mekaar kwalik geken.
Tog was dit ʼn heerlike wedstryd wat die Lions oortuigend 49-19 gewen het.
Hoewel dit ver van Johan Ackermann-hulle se uitsoekspan vir die Superreeks was, vertel sewe drieë teen drie die verhaal van die meer ervare klomp teen ʼn lekker samestelling van jeug en ervaring aan die Baabaas se kant.
ʼn Yslike pluspunt was die vertoning van Harold Vorster op senter vir die Lions na twee seisoene se beserings waar hy weinig rugby gespeel het. Die aflê het egter nie veel van sy vernuf laat verdwyn nie.
In die geheel was die hanteerbenadering van die Lions amper waar dit moet wees, soos hulle sewe drieë van getuig.
Aan die negatiewe kant – en dít is waar kombinasies ter sprake is – was die Lions se verdediging wat nie altyd na wense was nie.
Maar dit is iets wat gou reggestel kan word. Die verdedigingsafrigter JP Nel sal die tekortkominge in hierdie aspek, wat in die soms struktuurlose wedstryd weens die klem op hardlooprugby, sommer gou regstel.
♦ Die Lions speel aanstaande naweek in hul laaste, dog eerste ernstige, opwarmwedstryd teen die Stormers op Nuweland.
Die Stormers het Saterdag baie maklik met die SWD Arende afgereken (57-14) en die Southern Kings het 28-10 teen die Bulldogs in Oos-Londen gewen.