Heelwat SA belangstelling in Europese toetse

Dis Saterdag Noord teen Suid met al die vernaamste rugbylande lande wat in aksie is en waarvan die kragmeting tussen Ierland en Suid-Afrika (19:30 SA tyd) sekerlik die keur is.

Maar dan moet jy darem nie vergeet van die wedstryd tussen Wallis en Australië nie. Twee gelykopuitslae vir die Springbokke teen die Wallabies en die wedstryd wat oor drie weke vir die Bokke teen Wallis wag, maak die stryd in Cardiff vir Suid-Afrika besonder interessant en belangrik.

Wallis het sy laaste 12 wedstryde teen Australië verloor en het laas in 2008 die Wallabies kon klop. Verlede jaar was die Wallabies met 32-8 in Cardiff baas.

ʼn Effense klemverskuiwing agterlangs waar hulle meer wydte sal soek eerder as om die middelveld aan te val en daarvandaan te probeer speel, kan hierdie keer straks sukses bring, meen die Walliese afrigter Warren Gatland,

Die wedstryd skop om  19:15 SA tyd in Cardiff af.

♦  ʼn Tweede wedstryd wat fyn deur die Bokke en hul afrigters ontleed sal word, is die kragmeting tussen Frankryk en die All Blacks wat Saterdag om 21:45 (SA tyd) in die Stade de France in Parys afskop. Die Franse het die reeks in Junie in Suid-Afrika met 0-3 teen die Bokke verloor. Hulle was toe effe verswak weens die nie-beskikbaarheid van ʼn hele paar van hulle voorste spelers.

Dit sal ongelukkig wéér so wees. Frankryk het vier spelers in sy span wat die naweek hulle toetsbuiging maak. Hulle sal te doene kry met ʼn buitgewoon vasberade All Blackspan wat moet regmaak wat hulle verbrou het toe hulle in hulle laaste wedstryd, teen die Wallabies, verloor het.

Die Springbokke en die Franse meet aanstaande naweek kragte.

♦  Op Twickenham (16:30) behoort Engeland te sterk te wees vir die Poemas wat eenvoudig net nie daardie treetjie boontoe kan gee op internasionale vlak nie. Die Engelse afrigter Eddie Jones gee aan twee van die Britse en Ierse leeus se uitblinkers in Nieu-Seeland, die senter./losskakel Owen Farrell en die slot Maro Itoje, ʼn blaaskans omdat hulle volgens sy mening tot dusver die seisoen oormatig deur Saracens ingespan is.

Daar is egter soveel diepte in Engelse rugby dat dit die span nie veel sal affekteer nie en vir Jones kans sal gee om met die jaareindtoere na die noorde ernstig te begin bou aan sy Wêreldbekerspan met nuwe gehaltespelers wat na vore mag tree.

♦  Skotland, wat die afgelope seisoen of twee redelike vooruitgang gemaak het, behoort die aggressiewe Samoane in Edinburgh te klop (afskop 16:30).

Samoa is (weer) ontwrig deur die nuus dat hulle rugbyunie bankrot is, en hulle uitgawes in die VK word grootliks deur hulle teenstanders betaal.

Maar dit mag aan die ander kant die Suidsee-span meer vasberade vir ʼn sege maak.

In Skotland se span is daar drie spelers met SA  bande: die WP se Curriebeker-speler van die jaar, Huw Jones; die stut WP Nel; en Cornell du Preez, wat al 81 wedstryde vir Edinburgh gespeel het sedert hy in 2013 van die Kings af soontoe is en wat op die bank begin.

♦  Italië, met ʼn nuwe afrigter Conor O’Shea en heelwat veranderinge aan die span, sal vanaf 17:00 (SA tyd) met die moeilike Fidjiane te doene kry. Italië het die Bokke verlede jaar net-net op die telbord dog oortuigend op die veld geklop. Die wedstryd in Catanië sal ook vir Allister Coetzee-hulle kans gee om te sien wat die ‘nuwe’ Italië in die mou voer en te  beplan vir die wedstryd oor twee weke teen Italië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Toetie het geen benul van spankeuse en wedstrydplan nie. Daarteenoor wat verwag ons van politiek in sport ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.