Heelwat vrae voor interessante Supernaweek

Hierdie naweek is, in ag genome die laagtepunt waarin Suid-Afrikaanse rugby hom bevind, een van die interessantste naweke van die seisoen wat voorlê.

Gaan die Kings, rammetjie uitnek na twee opeenvolgende oorwinnings, dit ʼn drietal kan maak teen die Sharks? Laas het die Durbaniete tuis met net twee punte gewen.

Behalwe teen die Jaguares het die Sharks egter nog nie werklik oortuig nie. Tog, as mens ʼn geldjie wou waag, sou dit op hulle wees.

Interessant sal Pat Lambie se tweede speelkans na sy terugkeer beslis ook wees. Hy is kaptein en sy spelpeil sal met arendsoë dopgehou word.

♦ Die Cheetahs is Suid-Afrika se amper-span na verlede week se dramatiese inploffing teen die Highlanders.
Vrydagoggend, hierdie keer oorsee, speel hulle teen Nieu-Seeland se swakste span, die Blues.

Maar swakste is ʼn relatiewe begrip. Die Blues het 35 drieë gedruk, veel beter as die Cheetahs se 28; en die Cheetahs se 48 drieë afgestaan is net een minder as dié van die swakste verdedigers, die Sunwolves wat 49 drieë deurgelaat het.

En die Kiwi’s op tuisbodem is in elk geval nooit maklik nie.

♦ Die Lions, ook Vrydagoggend, kom teen die Aussies se beste span te staan.

In hierdie geval is sterkste ʼn relatiewe begrip soos die swakste van Nieu Seeland dit ook is. Al wat die Lions moontlik kan pootjie is hulleself, met dalkies te veel selfvertroue. Onder Johan Ackermann is dit ʼn onwaarskynlikheid, selfs in Canberra.

♦ En dit bring ʼn mens by die Bulls. Hulle moet hulself optel teen die Highlanders.

Wen is feitlik verseker te veel gevra, maar ʼn bietjie meer durf sal al klaar ʼn pluspunt wees.

Verdediging is die wagwoord. Hulle het teen die Crusaders in verlede week se Slag van Loftus meer besit as die besoekers gewen, met rukke gelyk of hulle iets kan vermag, en dan met swak oordeel of hanteerwerk klokslag besit afgestaan

Jy kan dit nie teen enige Nieu-Seelandse span doen nie – veral nie as jy boonop nog 40 duikslae ook mis nie.

♦ Crusaders speel tuis teen die Hurricanes wat teen die onoorwonne voorlopers moet wen om nog ʼn kans te staan om bo in hulle afdeling te eindig.
Die Rebels teen die Reds steur ʼn mens jou nie aan nie, en in Buenos Aires behoort die Jaguares, veral na verlede week se skrik teen die Sunwolves, die Force klop.

Die naweek se wedstryde –
Vrydag
09:35 Blues vs Toyota Cheetahs
11:45 Brumbies vs Emirates Lions
Saterdag
09:35 Crusaders vs Hurricanes
11:45 Rebels vs Reds
15:05 Bulls vs Highlanders
17:15 Southern Kings vs Sharks
23:40 Jaguares vs Force

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie ·

Asb Nollis. Eenmaal in jou lewe. Na die game bedank net. Jy kan mos nie integriteit he as dinge so lyk en jy bly aan nie. Jy is selfde klas as Allister. Blou bulle se laasjaar plan is om 2018 superreeks te wen. Die hele raad moet net loop. Die einde van rugby in SA is in sig. Dink net. Gaan nie meer kwaad word nie

Jack Russl ·

Nollis het mos gesê hy het ‘n plan en hy wil dit end uit voer. Soos dit nou lyk is sy plan om die bulle rugby heeltemal op te mors

Stoffel ·

Ek weet nie wat Nollie die naweek gaan doen nie, want dis NOG n NZ span wat tot die laaste min soos n stoom trein vol hou, moet maar liewer nie die game kyk nie, tune liewer na Nat Geo toe en kyk die wilde bulle daar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.