Heelwat werk wag op Lions ná groot skrik teen Sunwolves

Die Lionskaptein Franco Mostert dryf teen die Sunwolves met Lourens Erasmus en Elton Jantjies by om te help. (Foto: GB Jordaan)

Die Sunwolves het toe Saterdag op Ellispark nie vir die effens gelapte Lionsspan teruggestaan nie, en was met die aanbreek van die laaste kwart nog voor.

Soos die vorige twee jaar, toe Johan Ackermann nie met sy beste span na Argentinië getoer het nie en verloor het, het die ontwrigte Lions nie op alle silinders gevuur nie – en heelwat leemtes is uitgewys.

Die Sunwolves het verras, goed ingeklim en vir die nuwe hoofafrigter Swys de Bruin en sy afrigtingspan benoude oomblikke besorg voordat die Lions uiteindelik met 40-38 gewen het. Die Wolves het vyf drieë teen die Lions se ses gaan druk.

Ja, daar wag baie werk op De Bruin-hulle.

♦  Vinnige rugby deur die Lions, nie altyd met patroon en oorleg nie, het die Sunwolves se verdedigingstaak vergemaklik en só byna ʼn onaangename verrassing veroorsaak.

Die spanne het op 19-17 in die tuisspan se guns kante verwissel, en toe het die Sunwolves met twee langafstand-drieë die voorsprong geneem.

Die Sunwolves, wat in meer as twee seisoene op die vlak nog nie ʼn wegwedstryd kon wen nie, het die Lions se diepte behoorlik getoets. Hulle het in die laaste 20 minute uitgesak toe die Lions binne tien minute in die laaste kwart twee keer gaan druk het.

Wat duidelik was, is dat die Lions diepte in elke posisie het – maar dan moet daar darem afwisseling en dinkwerk wees om die talent tot uiting te laat kom.

Puntemakers –

Lions (19) 40: Drieë: Andries Coetzee, Marvin Orie, Malcolm Marx (2), Aphiwe Dyantyi, Rohan Janse van Rensburg. Doelskoppe: Elton Jantjies (5).
Sunwolves (17) 38: Drieë: Kotaro Matsushima, Craig Millar, Hosea Saumaki, Kazuki Himeno, Atsushi Sakate. Doelskoppe: William Tupou (3), Ryoto Nakamura(2). Strafdoel: Tupou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton Kld ·

En moenie vergeet van ‘n swak vertoning van die skeidsregter nie. Leeus was egter nie goed nie, veral op kritieke tye.

Frans ·

Die feit is dat as sekere spelers nie daar is ontbreek patroon en ritme.Dit is ook sigbaar by die Crusaders.Sonder Read en hul huidige kaptein Sam Whitelock en Ryan Crotty is dit net nie dieselfde kampioenspan nie.Hulle is selfs sonder dit nog strate beter as wat die Lions tans is.

Janse van Rensburg is gemors op vleuel en was nodig op senter om die lastige Sunwolves senterpaar hok te slaan.Lions sal moet vinnig regruk en met meer durf en plan speel anders wag daar ‘n moeilike toer op hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.