Hees Lions soek hul brul terug

Foto: GB Jordaan.

Laat ons nie doekies omdraai nie; die Lions sukkel deesdae om rugbywedstryde te wen.

Die Johannesburgers het die onderspit in hul laaste vier Verenigde Rugbykampioenskap-kragmetings gedelf, terwyl hulle ook nie eintlik op hul beste in hul Uitdaagbeker-oorwinning teen die Dragons was nie.

Ivan van Rooyen se span het as’t ware toe van vyfde na tweede rat in Ystrad Mynach gegaan om die wedstryd met 30 – 25 te wen.

Nou speel hulle Saterdag gasheer vir die Sharks in ʼn VRK-kragmeting op Ellispark en Van Rooyen hoop dat sy spelers ʼn bietjie meeer avontuurlustige rugby vorendag sal kom.

“Ons weet dat ons ʼn bietjie meer kanse op die aanval moet waag en nie vir hulle terugstaan nie. As ons net op ons verdediging en skopwerk staatmaak gaan hulle ons op die telbord seermaak,” het die Lions-afrigter gesê.

Boonop sal die Johannesburgers hierdie naweek sonder twee van hul sterkste aanvalswapens moet klaarkom – Jordan Hendrikse (losskakel) en Henco van Wyk (senter) sal die wedstryd met beserings misloop.

Hendrikse het ʼn seer skouer, terwyl Van Wyk onlangs ʼn enkeloperasie ondergaan het. Daarbenewens is Reinhard Nothnagel en Francke Horn ook nog op die krukkelys.

ʼn Tikkie goeie nuus is dat Sanele Nohamba en Rabz Maxwane darem weer gereed vir aksie is.

Hoewel Van Rooyen erken dat die Lions tans met hul rûe teen die muur is, meen hy dat Saterdag se wedstryd ook ʼn gulde geleentheid vir sy span is om weer op die wenpad te kom.

“As die Sharks met hul selfvertroue sukkel (hulle het immers onlangs sleg teen die Stormers verloor) sal ons daaruit moet muntslaan. As hulle egter op alle suiers vuur sal ons ʼn manier moet vind om hulle onder druk te plaas.”

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Lions se toernooi-uitslae sedert 23 Desember 2022:

Sharks 37 – 7 Lions

Stormers 40 – 8 Lions

Munster 33 – 3 Lions

Connacht 43 – 24 Lions

VRK-punteleer:

  1. Leinster: 61 punte
  2. Stormers: 50 punte
  3. Ulster: 43 punte
  4. Bulls: 40 punte
  5. Glasgow Warriors: 39 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Raak asseblief net ontslae van daai patetiese afrigter hy weet nie of hy kom of gaan nie!

Josua ·

Ongelukkig is daar afrigters en n afrigter wat dink hulle is afrigters, in my oë is n afrigter n persoon wat spelers ontleed en hul sterk en swak punte uitwys en daarvolgens n span bou en speler voorbery om tops in hul posisie te wees maar in die huidige Leeus se geval word spelers in posisies geplaas net om die span voltallig te maak nie noodwendig goed is in daai posisie nie, weereens moet ek Johan en Swys komplimenteer, hulle het die ouens gevormeer, motiveer en voorbery vir n sekere posisie en spel patroon en uitstekende resultate opgelewer. Die alewige span veranderinge is die euwel want van Rooyen kan nie besluit wie waar moet speel nie en ek is jammer dis nie hoe dit werk nie. In die begin het die leeus slae gekry onder Johan en Swys maar hulle het gehou by hul besluit want dit was deel van die voorbereiding en vir n paar jaar was die Leeus tops en het wonderlike rugby gespeel, top afrigters het hul spel patroon geloof, nou net n gejommel en ons weet waarom!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.