Hef aan voor vir spanne met SA bande in Europa

poleDie hef aan lê Saterdag en Sondag voor vir die meeste spanne met Suid-Afrikaanse bande in die twee topreekse van Rugby Europa.

Pole is die enigste een wat ʼn goeie kans gegun word om te wen wanneer hy Saterdag in Balti, Moldawië, in die reeks om die Rugby Europatrofee teen die tuisspan kragte meet.

Die Pretorianer Blikkies Groenewald is die span se hoofafrigter en hy word deur die gewese Blou Bulle-breier Chris Buitendag bygestaan.

♦ Duitsland, met sy Suid-Afrikaanse afrigters Kobus Potgieter en Pieter Jordaan, en verskeie Suid-Afrikaners in die spelersgroep, word die minste kans gegun om te wen.

Hy speel Sondag in Sotsji in die Rugby Europakampioenskap teen Rusland.

Sedert Duitsland se skokoorwinning vroeër vanjaar oor Roemenië het hy nog nie weer dieselfde peil bereik nie en ʼn mens wonder in watter mate die verlies van Michael Poppmeier se aansporing in die rol van kaptein tot die oënskynlike insinking bydra.

Poppmeier, ʼn gewese slot en kaptein van Valsbaai, is in die wedstryd teen die Eike beseer en sal vir die res van die seisoen buite aksie wees.

♦ In dieselfde reeks is daar ook min hoop vir Roemenië wat Sondag in Boekarest teen Georgië speel.

Die Lelos oorheers die reeks die afgelope tien jaar en is tans selfs hoër op die wêreldranglys as Italië, wat op ʼn hoër vlak in die Sesnasiesreeks speel.

Johan van Heerden, ʼn gewese slot van die Griffons en die Pumas, en Jody Rose, ʼn gewese Opkomende Springbok en broer van die Bok Earl Rose, het dusver vanjaar gereeld vir die Eike uitgedraf.

♦ Switserland, met ʼn gewese losvoorspeler van die Westelike Provinsie se B-span en later Franse toetsagsteman, Eric Mellville, as hulpafrigter, is Saterdag in Amsterdam teen Nederland ʼn buiteperd in die reeks om die Rugby Europatrofee.

Die Here Vyftien is tans in ʼn taai stryd met Portugal om die voorste plek in dié reeks gewikkel en die Switsers blaas in hul nek.

♦ In die ander Europese wedstryd Saterdag is Spanje verreweg die gunsteling om met die agteros, België, in die reeks om die kampioenskap af te reken.

Hy het boonop die tuisvoordeel van die kragmeting in Madrid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.